"Daai talent kan nou sing, dans, voordra, dromme speel of selfs stand-up komedie wees," vertel Kruger.
Kruger en Van Greunen se teatermaatskappy is verantwoordelik vir verskeie groot produksies wat by vanjaar se Absa KKNK sal debuteer. Dit sluit in Die Leo's, wat bekende name soos Sandra Prinsloo en Tobie Cronjé op die verhoog sal hê, Droom met Elana Afrika wat volgens Kruger "die verf van mure af gaan sing", Die monster in die Gang en #checkityt@route62, met die talent van Roete 62 op die verhoog.
Vir #checkityt@route62 beplan Kruger om verskeie oudisies by skole langs die Roete 62 te doen. Hulle begin op 4 Maart met oudisies in Worcester en eindig op 6 Maart met die laaste oudisies in Oudtshoorn.
Die week voor die fees sal die top agt jongmense wat tydens die oudisies gekies is, in Oudtshoorn kom bly vir 'n teater "boot camp". Kruger en nog verskeie professionele kunstenaars beplan om die leerders se talent binne een week
tot op professionele vlak te slyp.
Hierdie geleentheid hou geen koste vir die leerders in nie en word ten volle gefinansier.
Die produksie, #checkityt@route62, is losweg gebaseer op 'n vorige produksie getiteld Gly, wat in 2011 by die Absa KKNK aangebied is. Met Gly is oudisies egter net in Kaapstad gehou en het die deelnemers aan die produksie vir drie maande saam gerepe-teer voordat hulle op die feesverhoog verskyn het. "Gly was minder van 'n slypskool en mentorskap en meer van 'n produksie," sê Kruger.
Van Greunen skryf die bindingsteks vir #checkityt@route62, en Kruger staan die regisseurskoene vol. Indien die projek suksesvol is, kan dit dalk 'n jaarlikse projek word.
Die gehoor kan verwag om 'n gesamentlike openings- en sluitingtoneel te sien, met al die jong nuwe talent saam op die verhoog. Vir die res gaan elke deelnemer alleen die kans kry om sy of haar staal op die verhoog te wys. Kruger sê: "Ons wil talent gaan soek, ontgin, mentor en 'n geleentheid gee dat hulle dit vir mense kan wys.
#checkityt@route62 sal elke middag om 17:00 by die nuwe venue Johnny Biskit's opgevoer word. Hierdie nuwe venue en die produksies wat hier aangebied gaan word is spesifiek gemik op die 14-24 ouderdomsgroep.
Volgende week se oudisieprogram vir #checkityt@route62 lyk soos volg:
- 4 Maart - Hoërskool Worcester 14:30–16:30
- Hoërskool Robertson 18:00–20:00
- 5 Maart - Hoërskool Ashton 14:30–16:30
- Hoërskool Barrydale 18:00–20:00
- 6 Maart - Hoërskool Ladysmith 14:00–16:00
- Hoërskool Oudtshoorn 18:00–21:00
Kaartjies vir die fees is beskikbaar by Computicket — aanlyn by www.computicket.com of by enige Shoprite / Checkers- winkel.