KAROO NUUS - Twee bekende inwoners van De Rust, Eunice Strydom en Karen Miller, het verlede Vrydag 'n kunsuitstalling, Nature of Colour/Colour of Nature, gehad.
Strydom en Miller is reeds bykans sewe jaar vriende, maar dit was die eerste kunsuitstalling wat hulle saam gedoen het.
Strydom het ook onlangs haar debuut-kortverhaalbundel, So loop die storie, bekendgestel.
Sy is welbekend in die gemeenskap as streekbestuurder van kinderbeskermings-dienste by die ACVV.
Miller is ook 'n kleurterapeut wat beteken dat sy mense beraad deur middel van kleurfrekwensies wat hulle kies.
"As jy kom vir berading kies jy verskeie kleure wat in 'n botteltjie is. Die kleure vertel my dan iets van jou persoonlikheid of dit waardeur jy gaan en hoe jy daaroor voel en kan ek jou dan leiding gee. Dit is die eenvoudige verduideliking," vertel sy.
Dit is dus duidelik dat kleure in beide Miller en Strydom se lewens 'n baie belangrike rol speel en verduidelik ook die titel van hul uitstalling.
"Ons het natuurtonele geskilder. Ek is baie lief daarvoor om tekstuur in my skilderye in te werk. Die natuur gee my 'n gevoel van ruimte en veiligheid. My werk is van so 'n aard dat ek soms 'n ontvlugting nodig het en wanneer ek in die natuur is voel ek veilig en vry," het Strydom gesê.
Vir Miller beteken die natuur ook ontvlugting.
"Die lig veroorsaak die beweging van kleure in die natuur en dit is vir my lekker om dit te probeer vasvang."
Die uitstalling is by Café Rust in die hoofstraat van De Rust gehou en deur twee argeoloë, James en Regina van Vuuren, spesifiek op internasionale museum- en kunstedag gereël.
Die eienaars, van Café Rust, Anthea en Bruwer Geldenhuys, is self lief vir kuns.
"Ons beoog om die ruimte wat ons vir die uitstalling gebruik in die toekoms spesifiek vir "kunstige" geleenthede te gebruik. Daar is 'n duidelike behoefte aan spasies waar uitstallings en werkswinkels vir die kunste aangebied kan word."
Bruwer is self 'n kunstenaar en baie van sy kunswerke word binne Café Rust uitgestal.
"Eunice en Karin kan trots wees, omdat drie kunswerke reeds op die eerste aand van die uitstalling verkoop is. Dit is nie iets wat sommer gebeur nie."
Van links is Karen Miller, Eunice Strydom en Anthea en Bruwer Geldenhuys. Foto: Liezl van Niekerk
Bruwer en Anthea Geldenhuys. Foto: Liezl van Niekerk
Eunice Visser by een van haar kunswerke. Foto: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’