KLEIN-KAROO NUUS - Drie jong sangers van die Klein-Karoo het Saterdag 29 Augustus die geleentheid gehad om hul sangvaardighede onder leiding van die internasionale sangeres, Violina Angurlov, tydens 'n meesterklas in George te slyp.
Die twee Oudtshoorn-sangers, die 17-jarige Jana-Mari Augustyn en Elmé Steyl, asook die 21-jarige Catherine Tuffin van Ladismith, het die meesterklas in stemtegniek en verhoogteenwoordigheid bygewoon.
Angurlov is 'n senior dosent by Kaapse Opera en die Universiteit van Kaapstad (UK), en het haar ervaring met die jong sangers gedeel.
Die meisies het reeds hul merk in die plaaslike musiektoneel gemaak. Elmé en Jana-Mari het onlangs onderskeidelik 93% en 94% by die South Cape Arts Festival Eisteddfod (SCAF) behaal. Jana-Mari is ook genooi om tydens die SCAF se gala-aand op te tree.
Jana-Mari het verlede jaar die trofee vir beste senior solis in Westerse Kunsmusiek tydens SCAF se galakonsert gewen.
Catherine het intussen verlede jaar haar graad 8-sangeksamen deur die Geassosieerde Raad van die Koninklike Skole van Musiek (ABRSM) met onderskeiding geslaag. Sy het ook haar ABRSM-diploma in klavier met onderskeiding verwerf.
Die ABRSM is 'n prominente musiek-eksamenraad en geregistreerde liefdadig-heidsorganisasie gebaseer in die Verenigde Koninkryk. Catherine word afgerig deur Carinda van den Berg en Jana-Mari en Elmé deur Retha van Zyl.
Die meesterklas het die drie jong sangers die geleentheid gebied om onder leiding van 'n ervare professionele sangeres waardevolle ervaring vir hul toekomstige musiekloopbane op te doen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’