OUDTSHOORN NUUS - Besoekers aan vanjaar se Klein Karoo Klassique, wat die afgelope naweek plaasgevind het, kon nie net na klassieke musiek uitsien nie, maar kon twee prag-kunsuitstallings en drie boekgesprekke gratis ervaar.
Die boekgesprekke het in die banketsaal plaasgevind terwyl die kunsuitstalling, In the Key of Light, die kunswerke van 30 uitstekende visuele kunstenaars in die banketsaal en die ou raadsaal ten toon gestel het.
'n Tweede kunsuitstalling, Friends and I, het in die Prince Vincent-gebou plaasgevind. Albei uitstallings was onder kuratorskap van die kunstenaar, René Scribante van George.
Boek- en skrywerskenner, Elna van der Merwe, het die drie boekgesprekke met uiteenlopende temas gelei. Op Vrydag het sy met Bonnie Espie oor haar boek, Lifting the Lid, gesels wat beskryf word as vergelykbaar met die gewilde Tannie Maria-reeks van Sally Andrew.
Vir Saterdag se gesprek met Antjie Krog was die banketsaal propvol. Van der Merwe het met Krog gesels oor Koch se vertaling van Olive Schreiner se roman, From Man to Man wat as haar beste werk beskryf word. Sy is in 1920 oorlede voordat die roman voltooi is. Dit is deur haar man voltooi en in 1926 uitgegee. Sedertdien was daar ook ander weergawes totdat die Nobelpryswenner, JM Coetzee, dit onlangs verwerk en 'n slothoofstuk geskryf het.
Sy voorwaarde was egter dat die werk slegs in Afrikaans, Nederlands en Spaans uitgegee mag word. Krog het die werk meesterlik in Afrikaans vertaal as Van man tot man. Talle lede van die gehoor het vir die eerste keer gehoor dat Olive Schreiner nie 'n dag skoolopleiding gehad het nie, maar deur haar ma geleer het om te lees en skryf en haarself verder onderrig het.
Sondag se boekgesprek was met die topverkoperskrywer, Irna van Zyl, oor haar jongste misdaadroman, Kanniedood. Die verhaal speel in Hermanus en Barrydale-omgewing af en die leser volg speuradjudant Storm van der Merwe en sy kollega Shirien Niemandt terwyl hulle gekonfronteer word met raaisels en uitdagings oor 'n dood wat aanvanklik aan natuurlike oorsake toegeskryf word en 'n internasionale smokkelnetwerk wat bedreigde vetplante stroop. Soos met die vorige boekgesprekke was omtrent elke sitplek in die banketsaal ingeneem.
Tussendeur was daar ook verskeie gesprekke met musikante wat tydens die fees opgetree het.
Die banketsaal was ook die ideale plek vir feesgangers om tussen vertonings te ontspan en aan 'n verskeidenheid geregte, koffie en wyn te smul. Dit was veral Sondag 'n welkome toevlug toe reën en koue op Oudtshoorn toegeslaan het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’