VERMAAKNUUS - Vrydag 3 November is 'n baie spesiale aand vir 13 finaliste wat meeding om in 2024 aan die ATKV-Crescendo mentorprogram te gaan deelneem.
Vyf finaliste uit die Tuinroete gaan gekies word en daar is baie talent.
Kom ondersteun jou gunsteling deelnemer by die Bravo Lounge in die Garden Route Casino teen slegs R60 per person. Besprekings deur Quicket.
https://www.quicket.co.za/events/232654-atkv-crescendo-tuinroete-finaal/
Drag: Semi-Formeel
Tyd: 19:00
Kaartjies is ook beskikbaar by die deur, maar bespreek asseblief om teleurstelling te voorkom.
Kroeg- en restaurantfasiliteite is beskikbaar.
Die aand word in samewerking met ATKV-Crescendo Tuinroete verteenwoordiger Petronel Baard aangebied en beloof om ‘n luisterrykke geleentheid te wees. “Dit is vir my ‘n groot eer,” sê Baard.
ATKV-Crescendo het oor die jare baie sangers, onder andere Petronel self, se kreatiewe loopbaan geloods en hulle ondersteun. Dieselfde geld vir die aand se baie spesiale eregas, Anneli van Rooyen. Wat ‘n voorreg! Anneli staan Petronel en Robin-Dean Fourie, ook bekend as Die Hooflig, by om die finaliste aan te wys. Hy is ook die kursusleier vir ATKV-Crsecendo.
Die deelnemers is (in geen besonderse volgorde nie):
- Onblusbaar
- Yolyn Fortuin
- Crimson Hozay
- Cronic
- Janine Fourie Music
- Bea Crawford
- Frans Brits
- Ronel Potgieter
- Elzette Scott
- Aladin Tristen Buis
- Koos Louw
- Mia Holloway
- Andile Fak'u Citashe
Stef Kruger maak 'n buiging as gaskunstenaar en aanbieder vir die spoggerige geleentheid.
‘n Aand om te onthou, want Crescendo is waar legendes gebore word.
Die deelnemers het ook bietjie oor hulself en hul liedjies gesels:
- Onblusbaar
Ek is Onblusbaar, 'n Afrikaanse inspirerende rymkletser. Vir my dra musiek soveel krag en ek wil 'n boodskap bring deur die muse wat ek geniet!
My song is Most High. Baie keer kla ons oor dinge sleg gaan en ons wonder hoekom die Here nie met ons praat nie, maar dalk moet ons soms net bietjie stilbly en luister sodat ons Hom kan hoor praat.
Onblusbaar
- Yolyn Fortuin
My droom is om eendag ‘n onderwyser te wees. My passie is om te skryf en om te werk met mense. Ek glo aan oral ‘n positiewe en vriendelike energie bring. Ek het ‘n groot liefde vir musiek ook. Ek het 2021 my eerste volledige Afrikaanse liedjie geskryf, Wat die hart van vol is. Dit gaan oor my frustrasie, oor my gevoelens wat ek nooit met my vriend kon deel nie.
Yolyn Fortuin
- Crimson Hozay
Ek is Lester Ruben jr Paulus, gebore 28 February 1998 in Kaapstad. Ek is professioneel bekend as Crimson Hozay, ‘n rymkletser, liedjieskrywer en musiekprodusent van Mosselbaai. Ek is algemeen bekend as “Mosselbaai se Eie”. My liedjie se naam is Celebrate Jou.
Crimson Hozay
- Cronic
Cronic is stil en rustig, maar ‘n baie lieflike persoon. Ek het ‘n passie vir musiek maak en ook musiek produseer. Gaan uit my pad om ander mense op te lig en te inspireer.
My liedjie is getiteld Bedoel vir mekaar.
Cronic
- Janine Fourie Music
My naam is Janine Fourie. Ek is 34 jaar oud en kom van Oudtshoorn. Musiek is my passie en ek kan nie myself enigiets anders sien doen nie. Ek speel verskeie instrumente waarvan die ukulele en trekklavier my gunstelinge is.
My liedjie wat ek gaan sing se naam is Skoenlapper. Ek het dit geskryf as motivering vir myself om te groei en te kyk wat die wêreld buite my gemaksone kan bied. Ek dink Crescendo is die perfekte platform vir my om juis dit te doen.
Janine Fourie
- Bea Crawford
Ek skryf liedjies, sing en speel so bietjie kitaar. Ek was een aand bietjie omgekrap vir Eskom toe ek wou musiek maak en die krag afgaan. Gevolglik het ek maar in die bed gaan klim, maar my kop wou nie afskakel nie, en só is Sit die Ligte Aan toe gebore.
Die liedjie gaan oor beurtkrag, politiekery, die invloed wat die alewige bakleiery oor geld en mag op ons gewone mense het, en hoe die mense in magsposisies verdeeldheid onder ons saai om in beheer te probeer bly.
Bea Crawford
- Frans Brits
Ek het grootgeword in Sasolburg en die Vaaldriehoek asook die Noord-Vrystaat. Ek begin my musiekloopbaan op negejarige ouderdom en speel in my pa se orkes asook in versleie ander orkeste landswyd as trekklavier- en orrelspeler.
My musiektalent is natuurlik en ek het op gehoor begin speel. Ek het ook die konsertina opgeneem toe ek 12 jaar oud was. Na skool het ek in 1978 by die Suid Afrikaanse Polisie Dansorkes aangesluit waar ek 20 jaar lank die land getoer het met ‘n orkes van sewe tot agt lede. Vir 16 van hierdie jare het ek my eie orkes in die polisie gelei. Hier het ek my musiektalent uitgeleef as sanger, klawerbord- en konsertinaspeler. Hier moes ons musiek kon lees en het ek myself verder bekwaam as musikant en het orkesleier asook polisieoffisier geword. Ek het met die rang van kaptein uit die polisie getree in 1997. Hier het ek met musikante soos Stef Kruger, Blackie Swart, Nico Carstens en vele meer vir 20 jaar saamgewerk en opgetree. Hier het ek ook my eggenote, Sandra - wat die Anton Goosen en Huisgenoot se popperade kompetisie gewen het – ontmoet, en ons tree vandag nog saam ook op as ‘n duo. Ek het vele langspeelplate gemaak saam met ander musikante asook met Nico Carstens wat in 1985 vir 12 maande lank in my polisieorkes was. Vele TV-opnames en optredes is gemaak, waaronder Sing Country van Clive Bruce waar my orkes vele van die opnames gedoen het, Saturday night live, die boeremusiek kompetisies ens. As musikant het ek met al die bekendes saamgewerk; daar is te veel om te noem. Ek skryf ook graag my eie musiek as sanger, klawerbord en konsertinaspeler. Musiek bly my eerste liefde en ek is versot op reis, toere doen en musiek maak en natuurlik hou ek van braai.
Frans Brits
- Ronel Potgieter
Ek is 'n ouma van een en 'n ma van drie. Ek het grootgeword op 'n plot waar ek die meeste geleer het van alles: plante, diere, mense, seisoene, speel en ontdek. Dit is 'n blywende geskenk aan enige groeiende kind en klaargegroeide ouma.
My liedjie se naam is Jy was vir my en ek het die lirieke en melodie geskryf.
Ronel Potgieter
- Elzette Scott
Ek het begin kitaar speel en sing toe ek 14 jaar oud was. Ek doen dit eintlik as 'n stokperdjie en het tot dusver nog nie op 'n groot verhoog opgetree nie. My enigste liedjie wat ek geskryf het is vir my oupa wat my baie inspireer het in my lewe.
Elzette Scott
- Aladin Tristen Buis
Ek kom al die pad van Herbertsdale. My droom was nog altyd om deur my musiek en stem die wêreld positief te verander en ATKV Crescendo 2023 het my die geleentheid gegee om hierdie droom in realitiet te omskep.
My liedjie, Wat jy aan my doen, is spesiaal vir die oudisies geskryf.
Aladin Tristan Buis
- Koos Louw
Ek is 18 en het grootgeword in Namaqualand. Ek is mal oor country musiek. Ek speel kitaar, klavier, viool en ukulele.
Dorings vir ‘n kroon is spesiaal geskryf vir die oudisies.
Koos Louw
- Mia Holloway
Ek is ‘n 14-jarige meisie in Hoërskool Punt in Mosselbaai. My droom is om mense se harte aan te raak en ek hoop dat my musiek ‘n steunpilaar in moeilike tye sal wees.
My liedjie, Glashuis, is oor ‘n persoon wat deur ‘n moeilike situasie is en nog in die hersteltydperk is. Mense kraak dan daardie persoon verder af wanneer hulle hom/haar kamstig help. Die liedjie beskryf hoe daardie persoon dan verder innerlike konflik ervaar.
Mia Holloway
- Andile Fak'u Citashe aka Robert Smallz
My verhoognaam is Robert Smalllz. Ek is in Johannesburg gebore en woon in Mosselbaai. Ek is ‘n kunstenaar, liedjieskrywer, vervaardiger, klankingenieur, videograaf, grafiese ontwerper, geleentheidorganiseerder en -koördineerder. Ek het in die laat 90’s begin musiek skryf en optree en in die vroeë 2000’s begin opnames maak. Ek skryf musiek oor self-ervaring en reis, asook helende en inspirerende hip hop. Ek het vier keer by die Diasfees opgtree, het die MBGT kompetisie gewen en ook daar as beoordelaar opgetree. Ek is ook betrokke by gemeenskapsontwikkelingsprojekte. In 2017 het ek saam met die Suid-Afrikaanse Polisie, die departmente van gesondheid en opvoeding en die brandweer aan ‘n voedingsprojek gewerk waar ons kospakkies aan meer as 50 minderbevoorregte huishoudings voorsien het. Ek is ook ‘n aktiewe lid van Mocca (Mossel Bay Creative Culture Association) en het in Kaapstad, Gqeberha, Oos-Londen en Johannesburg opgetree. In 2019 was ek deur MAMA (Mzansi Arts & Music Awards) genomineer vir beste opkomende hip hopkunstenaar.
Robert Smallz
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’