OUDTSHOORN NUUS - Die 13de Klein Karoo Klassique word vanaf 5 tot 9 Augustus in Oudtshoorn, met die ondersteuning van die Rupert-musiekstigting aangebied.
Hugo Theart, artistiese direkteur van Kunste Onbeperk sê dat feesgangers na 'n visuele kunsprogram, boekgesprekke en -verkope, wynproe en ander proe-ervarings asook 13 uitstaande konserte tydens die musiekfees kan uitsien.
Die burgersentrum sal die kern van die fees vorm en meeste van die aktiwiteite sal daar plaasvind. Feesgangers kan onder andere na 'n uitvoering deur lede van die Kaapstad Opera met die uitsonderlike sopraan Janelle Visagie en die briljante pianis José Dias uitsien.
Sondag 7 Augustus se program begin om 10:00 met A Trio of Trios met Suzanne Martens op viool, Karin Gaertner op altviool en Peter Martens op tjello met trios van Beethoven, DohnÁnyi en Stephenson, en Dinsdag 9 Augustus gaan die klawers vir oulaas behoorlik dans met orrelmusiek deur Dippenaar in The Splendours of the Baroque Organ om 09:30 by die NG kerk Park, waarna die immergewilde Steinway-pianis Charl du Plessis Klassique om 12:00 afsluit met musiek van Chopin, Bach, Brahms, Beethoven en ander in Songs for my Mother. 'n Spesiale kaartjiepakket vir 11 van die 12 uitvoerings is teen R1 300 beskikbaar, of enkelkaartjies kan vir uitvoerings gekoop word (vriende van die KKNK kwalifiseer vir 5% afslag). Kaartjies is by Webtickets (www.webtickets.co.za), Pick n Pay-winkels regoor die land of die KKNK-kantoor beskikbaar.
Klein Karoo Klassique word deur die ondersteuning van die Rupert Musiekstigting, en bydraes van die ATKV en die Barrow Trust moontlik gemaak.
Vir meer inligting en volledige fees-program besoek Klein Karoo Klassique se webblad by www.klassique.co.za of kontak 044 203 8600.
Besoek www.klassique.co.za vir die direkte skakel om te verseker jou verblyf vir die fees is vooruit bespreek en deur LekkeSlaap afgehandel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'