REDAKSIONELE KOMMENTAAR - Daar is stories wat maklik is om te skryf. En dan is daar stories wat swaar op 'n mens se hart lê.
Verlede week het 'n polisiewoordvoerder van Groot-Brakrivier op aanklagte van bedrog, korrupsie, regsverydeling en intimidasie in die hof verskyn.
Mossel Bay Advertiser se joernaliste werk al baie jare professioneel met haar saam.
Ons nuuskamer kom goed met haar oor die weg. Ons weet sy het 'n gesin. Ons weet sy is 'n bekende en gerespekteerde figuur in die gemeenskap.
Dit was dus vir ons ontstellend toe ons van die aanklagte teen haar verneem.
Ons weet egter ook uit ervaring daar lê 'n lang pad voor.
Die hofproses moet sy gang gaan en sy is onskuldig totdat 'n hof anders beslis. Maar dit beteken nie die publiek moet oningelig bly nie.
Ek het vir haar 'n boodskap gestuur voordat ons die berig oor haar gepubliseer het, omdat ek en sy al vir jare lank 'n pad stap.
Daarin het ek verduidelik dat sy in 'n ope hof verskyn het en dat ons nie 'n keuse het om ons werk te doen en daaroor te berig nie. Dít is wat joernaliste doen. Dit is waarvoor ons opgelei is en dit is wat van ons verwag word.
Wanneer 'n verdagte op 'n aanklag wat nie met seksuele misdrywe of afpersing verband hou nie in 'n ope hof verskyn, mag die media ingevolge die wet die persoon se identiteit bekend maak.
Dit is nie sensasie nie. Dit is verslaggewing.
Tog is Mossel Bay Advertiser ná die berig oor die woordvoerder se hofverskyning aanlyn aangeval.
Ons is "sensasiesoekers" genoem. Die koerant se optrede is "skandelik" genoem.
'n Joernalis wat die hofverrigtinge die afgelope Vrydag bygewoon het, is daarvan beskuldig dat sy "geen skaamte" het nie.
Waaroor moet sy beskaam staan? Omdat sy haar werk doen?
Hierdie is nie die eerste keer dat joernaliste onder die skerp tonge van gemeenskapslede deurloop nie. Opmerkings soos hierdie is nie net ontstellend nie, dit is onaanvaarbaar. Dit is boeliegedrag. Word ander mense in ander beroepe ook sleggesê omdat hulle hul werk doen?
Hierdie woordvoerder is 'n verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dít maak die saak nog meer nuuswaardig.
Sy is tog in 'n gesagsposisie en werk met die wet. Sou ons nié daaroor berig het nie, sou die kritiek waarskynlik net so hard op ons afgekom het.
Joernalistiek is nie 'n gewildheidskompetisie nie.
Ons werk is nie om almal gelukkig te hou nie. Ons werk is om feite te rapporteer, verantwoordelik, billik en in die openbare belang.
Die Advertiser sal die hofsaak bly volg. Indien sy skuldig bevind word, sal ons daaroor berig. Indien sy onskuldig bevind word, sal ons ook daaroor berig.
Vir die mense wat die publikasie kritiseer: ons sal nie ophou om ons werk te doen nie. Geen druk of kritiek van ons lesers sal ons van stryk af bring nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’