Oudtshoorn-waterkrisis duur voort

Van links: Kobus du Toit (bestuurder waterwerke), Colan Sylvester (Oudtshoorn-burgemeester) en Chris Koch (direkteur tegniese dienste).

OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit kon vanoggend geen tydsraamwerk verskaf met betrekking tot hoe lank die dorp se water nog bruinkleurig gaan wees nie.
 
Uitvoerende burgemeester Colan Sylvester, Chris Koch (direkteur tegniese dienste) en Kobus du Toit (bestuurder waterwerke) het die media toegespreek oor die krisis rondom die vuil water in die dorp. Die water het na die naweek van 7-9 April se reënval bruin geraak.
 
Intussen staan mense toue om skoon water by uitlaatpunte aan te koop. Duisende liters water word na die dorp aangery en verkoop binne enkele ure uit.
 
Sylvester het verduidelik dat die water verkleur het weens roet wat met die reënval in die Raubenheimerdam beland het. Hy het egter gebruikers van sosiale media gemaan teen onwaarhede op dié media. Sylvester het bewerings van dooie diere en bloed in die watertoevoer ten sterkste ontken.
 
Koch het op sy beurt gesê Oudtshoorn het ‘n 72 uur waterstoringsisteem. “Dit gaan ‘n tydtjie neem om die sisteem terug na normaal te kry,” het hy gesê. Hy het gesê hyself drink die water soos dit is en glo nie dit hou ‘n gevaar in vir menslike gebruik nie.
 
Koch het egter erken dat by twee plekke, naamlik aan die Suidekant van Van Riebeeckweg en elders in Wesbank het toetse getoon dat die water nie geskik is vir menslike gebruik nie. Hy glo egter vas dat die laaste toetse, waarvan die uitslae Vrydag bekend sal wees, sal toon dat die watergehalte verbeter het.
 
Die feit dat Oudtshoorn glad nie oor ‘n watersuiweringsaanleg beskik nie, vererger ook die situasie. Om so aanleg op te rig sal tussen R90 miljoen en R120 miljoen kos. Sylvester het gesê die munisipaliteit is in sy geïtegreerde ontwikkelingsplan vir die volgende vyf jaar, besig om te kyk na die moontlikheid vir die oprigting van so aanleg.
 
Intussen kon die burgemeester nie ontken dat indien dit nou weer reën, Oudtshoorn se waterkrisis net kan vererger nie.
 
Klik hier vir vorige artikels:
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
 
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS 
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant