Opvolg: Seun beseer by KKNK

Die pantservoertuig waarop die seun geklim het toe hy geval het. Foto: Hannes Visser

OUDTSHOORN NUUSFLITS - ‘n Seun, van vermoedelik nege jaar oud, is vanmiddag vanaf die Oudtshoorn Mediclinic na die Life Bay View Hospitaal in Mosselbaai (nie George Hospitaal soos vroeër berig nie) oorgeplaas nadat hy by die weermag se uitstalling in ‘n pantservoertuig geval het en met sy kop op ‘n metaalplaat beland het.
 
Geen amptelike inligting vanaf die weermag is tans beskikbaar nie, maar die KKNK het die voorval bevestig. By navraag het Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, gesê: “Ons is bewus van die voorval wat vanmiddag (Vrydag 14 April) om 14:05 plaasgevind het. Die seun word tans vanaf die Oudtshoorn Mediclinic na die Life Bay View Hospitaal in Mosselbaai oorgeplaas. Ons meegevoel gaan aan hom en sy familie en ons wens hom ’n spoedige en volkome herstel toe. Die insident word deur die nodige partye ondersoek en geen verdere inligting is tans beskikbaar nie.”
 
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie in die Suid-Kaap, hanteer die weermag die voorval.
 
'n Weermag woordvoerder het die voorval telefonies bevestig, maar was nie bereid om 'n e-posadres te verskaf waarheen 'n amptelike navraag gestuur kan word nie. Die offisier het gesê dat hulle eers Dinsdag op enige navraag kan reageer.
 
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant