Toeriste deur straatkinders aangeval

Die polisie het die straatkinders in Voortrekkerweg in hegtenis geneem. Foto's: Liezl van Niekerk

OUDTSHOORN NUUSFLITS - 'n Groep Israeliese toeriste is vanmiddag deur straatkinders voor die CP Nel-museum aangeval.
 
Volgens Billy Engelbrecht, voorsitter van die Oudtshoorn en De Rust-toerismekantoor, het die toeriste, saam met hul toergids Don Mclennan voor die museum gestaan toe twee straatkinders op Mclennan se rug spring.
 
Mclennan het vir die toeriste gesê om in die bus in te klim. 'n Groep van die kinders is ook agter die toeriste in die bus ingespring. Mclennan kon daarin slag om homself los te wikkel en die straatkinders uit die bus te kry.
 
Mclennan het 'n klag by die polisiestasie ingedien waarna hy twee van die kinders by die polisiestasie uitgeken het.
 
Billy sê sulke publisiteit is sleg vir die dorp en kan moontlik veroorsaak dat toeriste nie meer Oudtshoorn besoek nie.
 
"Brig. Levona Januari het verlede week aan die publiek gesê dat klagtes by die polisie ingedien moet word en die sake sal ondersoek word. Ek hoop die erns van die situasie word na die voorval raakgesien. Dit is genade dat niemand seergekry het nie," het hy gesê.
 

Don Mclennan voor die Oudtshoorn-polisiestasie.
 
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant