OUDTSHOORN NUUS - Twee SA rekords asook agt byeenkomsrekords is die afgelope Saterdag by die Highgate interprovinsiale tweekampbyeenkoms by die De Jager-sportkompleks en in die NA Smit-swembad, Oudtshoorn, verbeter.
Met 512 atlete van sewe provinsies (WP, Boland, SWD, OP, Griekwas, Grens en Vrystaat) wat deelgeneem het, het SWD-atlete met 12 medaljes huis toe gegaan.
SWD se Ruben Gouws (seuns o.9) is aangewys as die junior victor ludorum van die byeenkoms.
Die spankompetisie is weer deur WP gewen, met Boland tweede en SWD derde.
SWD se medaljewenners:
- Karli Lotter (dogters o.9: silwer),
- Ruben Gouws (seuns o.9: goud),
- Matthew van Coller (seuns o.13: goud),
- Gustav Schlechter (seuns o.17: goud),
- Lara Schlechter (dogters o.19: brons),
- André Kleynhans (seuns o.19: silwer),
- Chris van Wyk (veterane: goud),
- Marius Schlechter (senior veterane: silwer),
- Edie Lutsch (meesters: silwer),
- Johan Windt (meesters: silwer),
- Minke Janse van Rensburg (gestremd: goud) en
- Marlé van Wyk (gestremd: goud).
Tydens die opening van die byeenkoms het die Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, beklemtoon dat die stadsraad alles in hulle vermoë doen om Oudtshoorn aantreklik te maak vir sportkodes om hulle nasionale byeenkomste na Oudtshoorn te bring.
Hy het SWD-tweekamp in besonder bedank vir hulle ondersteuning daarin.
In haar toespraak tydens die prysuitdelingsfunksie het die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, dit gestel dat dit een van haar departement se prioriteite is om sport op die platteland te bevorder en talentontwikkeling te stimuleer.
Stephnie McKay, Eden-tweekamp se voorsitter. Foto: Christo Vermaak
Die suidelike provinsies het die pas-uitgetrede voorsitter van SWD-tweekamp, Dave van der Walt, vereer vir dit wat hy vir tweekamp in Suid-Afrika gedoen het, maar in die besonder vir tweekamp en sport in die algemeen in SWD.
Van der Walt is as voorsitter opgevolg deur Stephnie McKay.
McKay het die deelnemers met die openingseremonie aangemoedig om die kampioenskap te geniet deur te sê, "Geniet elke oomblik en doen jou beste. Dit maak nie saak wat gebeur tussen die wegspringpunt en eindstreep nie. Solank jy net al twee kruis."
Van der Walt het genoem dat hierdie jaarlikse byeenkoms 'n ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn van ongeveer R3,4 miljoen beteken.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'