OUDTSHOORN NUUS - Freda Barnard (85), geliefde swem-ikoon van Oudtshoorn, is onlangs oorlede na 'n kort siekbed en haar erediens is verlede Saterdag by die NG Kerk Oudtshoorn-Wes behartig. Sy was die vrou van die bekende dr. Adam Barnard (88) wat steeds op die dorp praktiseer.
Haar swem-nalatenskap strek oor byna vier dekades nadat sy in die vroeë sewentigerjare haar swemskool in Oudtshoorn op die been gebring het.
Kort daarna het sy lewe aan die legendariese Freda Barnard-swemgala gegee wat sedert sy ontstaan 42 jaar gelede, steeds jaarliks by NA Smit-swembad plaasvind, en die res soos die spreekwoord sê, is geskiedenis. Die laaste twee Freda Barnard-galas was egter in George gehou as gevolg van die NA Smit-swembad wat nie op standaard was nie.
Freda Barnard (naasregs) stigter van die jaarlikse Freda Barnard-swemgala, posseer met haar swemmers wat medaljes ingepalm het. Hierdie foto is in 2019 geneem en is een van die laaste openbare foto's wat die Oudtshoorn Courant van haar geneem het. Foto's: Wyndham Ewerts
Die swemskool word steeds na al die jare vanuit die Barnard-gesin se woning in Jan van Riebeeckstraat bedryf.
Dié woning beslaan bykans 'n ongelooflike 8 000 vierkantemeter met 'n woud-tema kompleet met verskillende bome, voetpaatjies, blomme en struike.
Barnard se dogter, Delia van Biljon, bedryf tans die swemskool vir die afgelope 25 en is al vir 30 jaar betrokke by die swemskool nadat haar ma weens ouderdom begin afskaal het.
Swemmers spring weg tydens een van die Freda Barnard-gala's.
Delia, tesame met haar broers en susters, Johan, Eureka, Annelie, Deon en Adam, is almal uitstekende swemmers.
Oor die jare het die skool verskeie SA-swemmers opgelewer en is dit veilig om te sê dat dié swemskool een van die heel bestes in die provinsie is, in ag genome die magdom kennis en ervaring waarmee dit aangebied is en die prestasie wat opgelewer is.
Volgens die egpaar se jongste seun, Adam Barnard (jr) het die Freda Barnard-gala onlangs ongeveer 700 swemmers vanoor die land gelok, maar was dit vorige jare beduidend meer.
Hy vertel verder dat hul gesin gebroke is oor die verlies van hul moeder, maar dat hulle dankbaar is vir die opvoeding en ouerlike leiding wat hulle by hul ma en steeds hul pa ontvang het.
Een van die Freda Barnard-swemskool se jong swemmers, Nelleke Durandt in aksie tydens 'n swembyeenkoms.
"Ek onthou altyd met Paasnaweek byvoorbeeld het sy altyd vir die hele gesin 'n bybelvers voorgelees wat spesiaal op die individu van toepassing was. Dit getuig van hoe sy haar gesin se fisiese en geestelike welstand op haar hart gedra het. Sy het haar rol as matriag van die familie tot op die letter gevul en ons kinders binne die vrese van God grootgemaak. Naas God, was swem haar absolute passie en het sy ook ' n sagte plekkie vir die welstand van Israel gehad. Ons gaan haar gerustellende teenwoordigheid mis, maar ons gun haar die rus."
Benewens haar man en kinders, word Freda Barnard deur 11 kleinkinders oorleef.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’