OUDTSHOORN NUUS - Marina Fuchs van Oudtshoorn was die topvrouehengelaar met die Eden-hengelvereniging se sewende somerliga-kompetisie.
Fuchs hengel vir Triton-hengelklub. Sy het Saterdag 10 Maart 15,57 punte verwerf toe die assosiasie by Boggomsbaai lyne natgemaak het en die vis met 'n geheime aasresep uitoorlê het.
Banie Vermeulen, die hengelvereniging se skakelbeampte, het gesê die 144 hengelaars het om 09:00 die oggend by Stoepsit, Boggomsbaai, bymekaargekom en om 10:00 begin hengel.
Om 18:00 moes hulle die lyne intrek, met 1 809,19 kg se vis, 520 oneetbare- en 74 eetbare vis, geland.
"Al die vis is lewendig teruggeplaas om bewaring te bevorder," het Vermeulen gesê.
Die grootste eetbare vis, 'n kabeljou van 6,67 kg, is deur Ruan Westraadt (Stilbaai-hengelklub) gevang. Die swaarste oneetbare vis, 'n bulrog pylstert van 47,66 kg, is deur John May (Stilbaai-hengelklub) ingeweeg.
Ander wenners:
- Tophengelaar: Raldo Potgieter (Stilbaai-hengelklub)
- Topjunior o.16: Floris Marais (Stilbaai-hengelklub)
- Topgrootmeester: Willie Vorster (Stilbaai-hengelklub)
- Topmeester: Kallie Erasmus (Knysna-hengelklub)
- Topklub: (Stilbaai-hengelklub)
Lees 'n vorige artikel: Oudtshoorniet van ggroot Boggomsbaaivis
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'