OUDTSHOORN NUUS - Christine van Coller, 'n oudinwoner van Oudtshoorn en voormalige lid van die Wesbank-tennisklub, wat tans in Hartenbos woon, het Sondag in Kaapstad drie titels in die 55+ ouderdomsgroep tydens die 2026 Kaapse Ope ingepalm.
Sy het die enkelspeltitel gewen deur haar dubbelsmaat, Rida Bester van Wesbank-tennisklub, in die eindstryd te klop, nadat die twee vroeër saam die vrouedubbels gewen het teen Michelle Crament van die Welgemoed-tennisklub en Debra Hyde van die Knysna-tennisklub.
Van Coller het ook saam met Graeme Dorrington van die Kelvin Grové-tennisklub die 55+ gemengde dubbelstitel verower.
Van links is Helgard Muller, Casper Gouws, Warrick Dreyer en Jacques de Beer met hul medaljes. Foto: Garnett Wicomb
In die mansdubbels 50+ het Jacques de Beer, ook van Wesbank-tennisklub, op 'n snikhete dag saam met Warrick Dreyer van die Vredenburg-tennisklub in die eindstryd teen Helgard Muller, 'n boorling van Oudtshoorn en voormalige Wesbank-lid wat tans in Lesotho woon, en sy dubbelsmaat, Casper Gouws van George-tennisklub, met 5 - 7, 2 - 6 in 'n taai wedstryd verloor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’