OUDTSHOORN NUUS - Die Rooispan het Saterdag 25 Januarie die 2025 Franklinskild-kompetisie van die Eden-tennisvereniging naelskraaps met 34 wedstryde teenoor 32 gewen.
Dit was danksy die span se eersteligaspelers wat hul afdeling oortuigend met 17 - 7 gewen het.
Die Blouspan het die tweede liga met 15 wedstryde teenoor nege gewen.
Die kragmeting tussen die twee meesterspanne het met ses wedstryde elk gelykop geëindig terwyl die blou uitnodigingspan met vier wedstryde teenoor twee geseëvier het.
Die wedstryde is op die bane van die Mosselbaai, Hartenbos en Klein-Brak-tennisklubs gespeel.
Die voorsitter van Eden-tennis, Debra Hyde, het na die dag se spel die onderskeie klubs bedank vir hul fasiliteite en ook die spelers vir die goeie gees waarin die wedstryde gespeel is.