OUDTSHOORN SPORTSNUUS - Die belowende tennisspeler, Zander Petzer (16), het onlangs met 'n skittervertoning die jongste mansenkelspelkampioen van die Wesbank-tennisklub geword toe hy die verdedigende kampioen, Jacques de Beer, in 'n spannende eindstryd met 7 - 5, 6 - 3 geklop het.
Petzer het veral op kritieke tye in die aanskoulike eindstryd punte met sy kragtige verbyhoue aangeteken. Die uitgeslape De Beer het weer met sy goeie afslane en aanvallende spel die jong speler talle foute laat begaan en dit was 'n eindstryd wat lank deur die groot aantal toeskouers onthou sal word.
Petzer, wie se ouer broer, Marcel, in die halfeindstryd teen De Beer vasgeval het, het daarna 'n tweede titel ingepalm toe hy saam met Hugo van der Berg die mansdubbels gewen het deur vir Pietman Schoeman en Johan Erasmus met 6 - 4, 6 - 4 te klop.
Die veteraan, Pieter Schoeman, was die wenner van die "Back Draw" nadat hy Garnett Wicomb 8 - 4 geklop het.
Die toernooi wat vanjaar deur Pam Golding Eiendomme geborg is, is Saterdag saam met die klub se 2022 kermis afgesluit.
Nog 'n belowende jong speler van die klub, die 14-jarige Franco van Rensburg, het R1 000 in sy sak gesteek toe hy in die kompetisie vir spelers van alle ouderdomme, vir Pieter Barnard in die eindstryd geklop het.
Die voorsitter van die klub, Louis Uys, het met die prysuitdeling die klub se dank uitgespreek teenoor Pam Golding, die organiseerder van die toernooi, Pieter van de Walt, die deelnemers en almal wat 'n bydrae gelewer het tot 'n baie suksesvolle kermis. Die uitsluitlike doel van die kermis was om fondse in te samel vir die opgradering van die klub se tennisbane. Die klub doen 'n beroep op sakemanne en besighede in die dorp om hul gewig in te gooi.
Vir meer besonderhede skakel Louis Uys by 082 8358 555.
'We bring you the latest Oudtshoorn, Klein Karoo news'