OUDTSHOORN NUUS - Die span van Wesbank-tennisklub wat Jacques de Beer (kaptein), Marcell Petzer, Madri van Wyk en Rida Bester insluit het Saterdag die Amex Eden-distriksklubkampioenskap by Mosselbaai-tennisklub gewen.
Great Coaches van George-tennisklub het as naaswenners uit die stryd getree.
In die B-afdeling het die Hartenbos Ninjas - Schalk Pienaar, Aubrey Nel, Elana Alberts en Antoinette du Preez met die louere weggestap. Team Aces van Mosselbaai-tennisklub was naaswenners in dié afdeling.
Vier spanne het in die A-afdeling en vyf in die B-afdeling meegeding.
Die wenners en naaswenners in elke afdeling dring deur tot die nasionale klubkampioenskap wat deur American Express geborg word.
Die span van Wesbank-tennisklub, het prysgeld van R8 500 vir hul klub in die sak gebring.
Die voorsitter van Eden-tennis en toernooidirekteur, Debra Hyde, het tydens die prysuitdeling haar dank teenoor Mosselbaai-tennisklub uitgespreek vir die gebruik van hul puik fasiliteite, asook die toernooiskeidregter, Yvonne Dippenaar.
Sy het ook die spelers bedank vir die goeie sportmangees op en van die baan en die wenners en naaswenners voorspoed toegewens vir die nasionale kampioenskap wat voorlê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’