TUINROETE DISTRIK TENNISNUUS - Debra Hyde van die Knysna-tennisklub is op die 25ste algemene jaarvergadering van die Eden Seniors-tennisvereniging in die klubhuis van die George-tennisklub onbestrede tot voorsitter herkies, en so ook die visevoorsitter, Des Sampson asook die tesourier, Karin Deltenre. Jackie Muller is tot sekretaresse verkies.
Die res van die bestuur vir 2021/22 is Ernst Kok, Hanlé Kok en Ayanda Nontshinga.
Volgens Hyde het Eden-tennis nog ‘n goeie jaar agter die rug ten spyte van die Covid-19-pandemie.
Hoewel die Eden Seniors Opekampioenskappe in Desember minder spelers gelok het, het dit weer vir goeie tennis gesorg terwyl die gewilde Fritz Meissner-spankompetisie asook die Franklin skild-toernooi met sukses afgehandel is.
Eden-tennis is ook baie trots op die getal spelers uit die streek wat onlangs gekies is om Suid-Afrika later vanjaar in Umag, Kroasië, by die wêreldseniorskampioenskappe te gaan verteenwoordig.
Hulle is Christine van Coller, Rida Bester, Debra Hyde, Jacques de Beer en Guillaume Oberholster. Van Coller Oberholster en De Beer is boonop ook as kapteins van hul onderskeie spanne aangewys.
Van Coller van die Wesbank-tennisklub, het ook tydens vanjaar se nasionale seniorkampioenskap in Pretoria die eerste ontvanger geword van die trofee vir die speler wat die meeste titels (ses) verower het.
Volgens Hyde is dit vir 'n klein provinsie soos Eden 'n besondere prestasie en ’n veer in die hoed.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'