TUINROETE DISTRIK TENNISNUUS - Die Eden Suid-span van die Eden-tennisvereniging het onlangs die 2021-kompetisie om die Franklin Skild gewen toe hy Eden-Noord met 33 wedstryde teenoor 21 geklop het.
Dié skild is jare gelede geskenk deur 'n tennisliefhebber, Franklin van Herold, met die voorstel dat twee saamgestelde spanne van die streek daarvoor speel.
Die span van die Suide was verlede jaar die wenners.
In die stryd tussen die twee eersteliga spanne, het elke span 12 wedstryde ingepalm, maar was die Noorde die wenners met 29 stelle teenoor 27. Die Suide se tweedeligaspan het met 15-9 en 32 stelle teenoor 23 gewen.
In die afdeling vir senior mans was die Suide heeltemal te sterk vir die Noorde met 'n oorwinning van 6-0.
Die voorsitter van Eden-tennis, Debra Hyde, het na die dag se wedstryde die spelers vir hul opoffering bedank.
Sy het ook haar waardering uitgespreek teenoor die Hartenbos, Mosselbaai en Klein-Brakrivier-tennisklubs vir die gebruik van hul fasiliteite en voorsiening van verversings.
"Dit was weereens 'n baie geslaagde dag van goeie wedywering en puik kameraderie," het Hyde gesê.
Die A-span van die Wesbank-tennisklub het die 2021 gemengde ligakompetisie van die Eden-tennisvereniging verlede Saterdag op 'n hoë noot begin toe hy die span van Sedgefield oortuigend met 5-1 geklop het.
Franklin Skild eersteliga spanne. Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'