OUDTSHOORN NUUS - Die Eden-Noord-span van die Eden-tennisvereniging het tydens die 2022-tennistoernooi die Franklin-skild gewen toe hulle Eden-Suid onlangs met 37 - 26 geklop het.
Die Franklin-skild is 'n jaarlikse tennistoernooi wat gewoonlik vir 'n dag se kompeterende tennis sorg.
Die skild is jare gelede geskenk deur 'n tennisliefhebber, Franklin van Herold, met die voorstel dat twee saamgestelde spanne van die streek daarvoor speel.
Spelers van Wesbank-, Hartenbos- en George-tennisklubs het vir die span van die noorde gespeel en spelers van Mosselbaai, Knysna, Plettenbergbaai en Klein-Brakrivier vir die suide.
Die toernooi is op die bane van Mosselbaai, Hartenbos en Klein-Brakrivier gespeel met 76 spelers wat vanjaar deelgeneem het.
In die stryd tussen die eersteligaspanne het die noorde se mansspan met 4-2 gewen, terwyl die vroue van die suide met 'n enkele stel gewen het nadat die wedstrydtelling 12-12 was.
In die afdeling vir tweedeligaspelers het die span van die noorde 'n oortuigende oorwinning van 19-5 behaal, terwyl die vroue ook koning gekraai het.
In die afdeling vir senior mans (spelers ouer as 70 jaar) was die span van die suide heeltemal te sterk vir die noorde met 'n oorwinning van 6-2.
Die voorsitter van Eden-tennis, Debra Hyde, het die spelers vir hul opoffering bedank, asook die tennisklubs wat hul geriewe beskikbaar gestel het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'