Teen 18:00 verlede Saterdag was daar nie meer plek vir `n muis by die Bridgton-sportterrein nie en moes die hekke gesluit word.
“Ons stoutste verwagtinge is oortref en moes ons reeds teen sesuur Saterdagmiddag die hekke van die stadion toemaak omdat ons nie meer mense kon akkommodeer nie,” het Deon Carelse, hoof organiseerder van die toernooi gesê.
Meer as 5 500 toeskouers het die toernooi verlede Vrydag en Saterdag bygewoon.
Bennie Byleveld van Badenhorst Slaghuis, hoofborg van die toernooi, het ‘n trui vanaf Paul Treu, afrigter van die Blitsbokke ontvang, wat deur al sy spelers geteken is.
Mnr. Mervin Green, SARU se hoof van ontwikkeling het sy tevredenheid met die organisering van die toernooi uitgespreek en het gesê dat dit moeilik sal wees om op die naweek te verbeter.
`n Musiekvertoning, geborg deur Absa KKNK, is baie goed ontvang met kunstenaars soos Loukmaan Adams, Marsha Lombard en Paul Amas en vriende wat mense op hulle voete gehad.
Die wenners van die onderskeie kompetisies was:
Colridge Primêr – o.13 Beker, Groot-Brakrivier Sekondêr - o.16 Beker, Parkdene Sekondêr - o.19 Skild, Gerrit du Plessis - o.19 Bowl, Barrydale Hoërskool - o.19 Plaat, Albert Myburgh Sekondêr - o.19 Beker.
Van links staan ds. André Boezak, Paul Treu (afrigter van die nasionale sewesspan), Edward Jackson (voorsitter van BSS se beheerliggaam), Mervin Green (belas met ontwikkeling by SARU), Gordon April (burgemeester van die Groter Oudtshoorn), Hennie Baartman (president van SWD-rugby) en Kelly Ellis (skoolhoof van BSS) tydens die opening van die Zibi Sewestoernooi verlede Saterdag op die Bridgton-sportterrein. Foto: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'