OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span het die afgelope naweek in 'n SWD Premierligawedstryd vir Jaguars van Knysna op die Bridgton-sportterrein met 43-20 afgeransel.
Die eerste helfte van Bridgton se spel is gekenmerk deur swak verdediging en balhantering in die kontaksituasies, wat ook verantwoordelik was vir hul agterstand van 17-7 teen rustyd.
Met die afskop van die tweede helfte was die manne in maroen egter 'n perd van 'n ander kleur met pragdrieë in die eerste 10 minute deur Bautros May, Adrian Booysen en Charlston Ewerts wat die telling eensklaps op 26-17 in hul guns te staan gebring het.
Die tuisspan se berekende aanvallende mentaliteit was eenvoudig te veel vir die besoekers, met Jaguars wat behalwe vir 'n strafskop, geen verdere punte in die wedstryd kon aanteken nie.
Om sout in Jaguars se wonde te vryf was Bridgton se tienersensasie-losskakel, Tinsley Stuurman, suksesvol met vyf doelskoppe en 'n strafskop vanuit moeilike posisies. 'n Blink rugbyloopbaan lê beslis voor vir Stuurman.
Bridgton het kort voor die eindfluitjie na 'n vloeiende agterlynbeweging en verbysterende spoed in gebroke spel, weer twee drieë gedruk wat hul oorheersing in die wedstryd onderstreep het.
Die flank Marshall Prins en 'n speler van Jaguars met wie Prins in 'n onderonsie betrokke was na sy drie in die hoekie, is beide deur die skeidsregter met geel kaarte vir ongedissiplineerde spel van die veld gestuur.
Bridgton se volgende wedstryd is Saterdag teen Progress op George op die Rosemoor-stadion. Vir Bridgton se A-span het Duzil Avontuur (14), Eugene Booysen (13), Charlston Ewerts (11), Bautros May (7), Marshall Prins (6) Adrian Booysen (senter) elk een drie gedruk. Tinsley Stuurman (losskakel) was in die kol met vyf doelskoppe en een strafdoel.
Bridgton se B-span het dié van Jaguars met 67- 13 getrap, terwyl Bridgton se C-span, met 45-0, baas was teen hul eweknieë.
Die eerste helfde van Bridgton was gekenmerk aan swak verdediging en balhantering in die kontaksituasies.
Adrian Booysen het een van Bridgton se drieë in die tweede helfde gedruk. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'