RUGBY NUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span het die afgelope Saterdag 'n wegholoorwinning van 44 - 7 oor Riversdal Blues in 'n SWD Super-A-ligawedstryd behaal.
Die wedstryd is by die Oudtshoorn-sportterrein gespeel met die tuisspan wat teen rustyd reeds 15 - 0 voorgeloop het.
Ofskoon Riversdal Blues, wat vanjaar slegs drie seges uit 18 wedstryde kon behaal moedig probeer het, was die maroen truie se aanslag een te veel vir die besoekers.
Dit was veral in die tweede helfte duidelik dat enige aanvanklike weerstand verbrokkel het met veral Bridgton se agterspelers wat die verdediging na willekeur oopgevlek het. In die proses het die immergroen-vleuel, Charlie Ewerts in die proses drie drieë gedruk.
Die heelagter Tyrese Pietersen, Willem Jafphta (vleuel), Eugene Booysen (senter) was verantwoordelik vir die res van die drieë. Adrian Booysen (kaptein en senter) was in die kol met 'n doelskop terwyl Anver Venter (agtsteman) 'n doel - en strafskop oorgeklits het.
Bridgton lê tans in die vyfde plek op algehele puntestand (65 punte) met slegs een punt verskil van Groot-Brak (66) met slegs vier wedstryde in die liga wat oorbly.
Dit is dus van kardinale belang dat Bridgton al sy oorblywende wedstryde wen om homself 'n realistiese kans te gee om onder die top-vier spanne te eindig wat ook sal kwalifiseer vir die uitspeelrondtes. Bridgton speel die naweek teen Blanco in George waarna Maroi's, Groot Brakrivier en Crusaders wag.
Bridgton se B-span was ook aan die wenkant met 36 - 21 terwyl hul C-span met 31 - 17 geseëvier het.
Die senter Eugene Booysen seil oor die doellyn vir sy drie na 'n seepgladde agterlynbeweging. Foto: Keenyah Weyers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’