OUDTSHOORN NUUS - Verwag nog vuurwerke en verrassings in die SWD-rugbyunie se Top 8-klubkompetisie. Die derde ronde, wat die afgelope naweek afgehandel is, het sy kwota opskuddings opgelewer.
Die grootste verrassing was sekerlik Blanco se skokoorwinning met 33 - 29 teen Evergreens, die voorloper in daardie stadium.
Dit het min mense, behalwe natuurlik Blanco-ondersteuners, verwag.
Dit wys nou net wat gedoen kan word.
Maar net so het Barbarians vir Progress uit sy derde plek op die punteleer gedruk met 'n oorwinning van 33 - 27. Progress lê nou vierde (29 punte) met Barbarians vyfde (23 punte).
Die vier voorlopers op die punteleer het die dekstoele op die Titanic behoorlik rondgeskuif met Heidelberg (35 punte) wat Evergreens (33 punte) na die tweede plek laat afskuif het.
Bridgton is nou in die derde plek (33 punte) met Progress vierde.
Die res van die punteleer lyk onveranderd wat die onderste vier spanne betref.
Net drie spanne het die volle vyf punte in hul onderskeie wedstryde ingesamel: Heidelberg, Bridgton en Blanco.
Dié Top 8-kompetisie gaan ondersteuners se senuwees vorentoe behoorlik toets. En waak daarteen om voorspellings te waag. Dit het Blanco nou bewys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’