TUINROETE RUGBY-NUUS - Die Suid-Afrikaanse vrouerugbyskeidsregter, die 31-jarige Aimee Barret-Theron het Vrydagaand die rugbyspelers op Outeniquapark se kollig gesteel en geskiedenis met die fluitjie gemaak deur die eerste vrou in Suid-Afrika te word wat 'n Curriebekerwedstryd hanteer.
Barret-Theron het die kragmeting in die Eerste Liga van die reeks tussen die SWD Arende en die Luiperds behartig en die wedstryd baie goed hanteer wat deur die Luiperds met 27-25 gewen is.
Sy het haar stempel in die wedstryd afgedruk toe sy in die 59ste minuut van die wedstryd 'n strafdrie aan die SWD Arende toegeken het. Na rustyd is Adi Jacobs (linkervleuel) van die Arende en Johan Retief (slot) van die Luiperds met geelkaarte van die veld gestuur.
Vir die SWD Arende is dit die week terug na die tekenbord nadat hul 'n oorwinning deur die vingers laat glip het deur swak besluitneming om na strafskoppe wat aan hul toegeken is die kantlyn op te soek as om eerder pale toe te korrel.
Die Arende wat nou met hul rug teen die muur is, sal hul oorblywende wedstryde vanaand (Vrydagaand) teen die Grens Bulldogs op die BMC-stadion in Oos-Londen; 7 September, Griffons (tuis); 15 September, Valke (weg); 21 September, Windhoek Draught Welwitchias (tuis); 28 September, Boland Kavaliers (tuis) en 5 Oktober, OP Olifante (weg), moet wen om die uitspeelrondes te haal.
"Ek is teleurgesteld," het hoofafrigter Rynard van As gesê, "want 'n tuiswedstryd moet jy wen. My span het te veel foute gemaak wat ons onder geweldige druk geplaas het. Op die aanval het ons kanse gehad. In 'n wedstryd soos vanaand waar die punteverskil so naby is moet jy sulke geleenthede benut en omskep in punte. Wat verblydend was is dat ons in die vaste fasette baie goed gespeel het. Ons verdediging was oor die algemeen nie swak nie, alhoewel ons by tye sagte drieë afgestaan het.
"My span het baie geleer uit die foute en ons sien uit na ons volgende wedstryd, Vrydagaand teen die Grens Bulldogs in Oos-Londen. Die wedstryd gaan vir ons span 'n groot karaktertoets wees. Ons doelwit is om in die finaal van die kompetisie te speel."
Janneman Stander, plaasvervanger-flank van die Arende omarm vir Chriswill September, skrumskakel van die Luiperds in Vrydag se Curriebekerwedstryd op Outeniquapark. Foto: Anton Gericke.
Die Arende se hele voorry, Luxolo Kuza (loskopstut), Jacques Vermaak (haker) en Vuks Sofisa (vaskopstut), Cornell Hess (slot), Wayne Wilschut (agtsteman), Wynand Grassmann (plaasvanger slot) en Tyler Fisher (buitesenter) het die oog gevang.
Divan Nel, het in die tweede helfte as plaasvervanger-losskakel sy terugkeer op die veld gemaak na 'n operasie aan sy enkelligamente. In die 77ste minuut het hy met 'n strafskop van oor die 48m geslaag wat sy span met 25-24 laat voorloop het.
'n Hoogvat in die doodsnikke van die wedstryd deur Grassmann, het die Arende se doppie finaal geklink. Gerhard Nortier (buitesenter) het met die strafskop geslaag en die Luiperds het met 27-25 geseëvier.
Puntemakers:
SWD Arende 25 (15): Drieë - Johan Steyn (skrumskakel), Vuks Sofisa (vaskopstut), strafdrie. Leighton Eksteen (losskakel) slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel en Divan Nel (plaasvervanger losskakel) klits 'n strafdoel oor.
Luiperds 27 (17): Drieë - Tapiwa Mafura (heelagter), Boela Venter (flank), Gerhard Nortier (binnesenter). Schalk Hugo (losskakel) slaag met twee doelskoppe en 'n strafdoel en Nortier klits ook 'n doelskop en 'n strafdoel oor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'