OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige Springbok-vroueafrigter, Eddie Myners, is verlede Vrydagaand, 24 November, tydens 'n galageleentheid onthul as Bridgton-rugbyklub se nuwe afrigter.
Bridgton-rugbyklub het vanjaar groot verbetering getoon onder hul vorige afrigter, Stanley Kruger, wat volgende jaar Mosselbaai Barbarians sal afrig.
Onder Kruger se afrigting, was die klub tot en met die laaste ligawedstryd nog in die wedloop vir die uitspeelwedstryde.
Myners is oorspronklik van George en sal met oefentye heen en weer na Oudtshoorn pendel. Myners, huidige hoof van George Korrektiewe Dienste, het in 2005 sy rugbystewels opgehang en sy tuisklub, Evergreens, die daaropvolgende jaar afgerig en die Groot Uitdaagbeker vir die eerste keer in Evergreens se geskiedenis gewen
Daarna is hy aangestel as afrigter van onder andere die SWD o. 21-span, hulpafrigter van die SWD se senior span saam met Phil Pretorius (2008/2009), Johan Lerm (2010) en was hy ook hoofafrigter van die SWD Arende in 2012/2013.
Hy het in 2011 ook die nasionale span van die departement korrektiewe dienste afgerig en was die hulpafrigter van die Suid-Afrikaanse Barbarians en die SA President XV in 2012 saam met Jimmy Stonehouse.
Myners sê dat dit uiteraard vir hom 'n groot eer is om Bridgton-rugbyklub af te rig vanweë die klub se groot aansien in SWD en ook omdat die klub reeds drie keer die SWD Premierliga in die verlede gewen het.
"Baie dankie aan die klub wat my met die intrapslag soos familie laat voel het. Ek het darem heelwat van die spelers al afgerig by die verskeie SWD-spanne. Sonder om te veel weg te gee, kan ek bevestig dat daar heelwat aspekte is waaraan ons gaan werk in die voorseisoen wat vandeesweek in alle erns begin. Die talent is beslis hier om 'n groot aanspraak op die beker te maak."
Op 'n vraag wat sy mikpunt vir Bridgton vir 2024 is, het Myners gesê dat daar soos verwag, altyd groot verwagtinge by die publiek is en sal hy dus sy visier instel om eers die uitspeelrondes te haal en vandaar af, vir goud te gaan en die beker inpalm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’