Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Courant het op 27 Julie op die voorblad berig oor 'n bakleiery wat uitgebreek het na 'n wedstryd tussen Heidelberg- en Bridgton-rugbyklubs op Saterdag 21 Julie.
Die sekretaris van Heidelberg RVK, Gavin Geswind, het die koerant op 6 September, na afloop van 'n tugproses oor die voorval, gekontak om die klub se ontevredenheid met die berig van 27 Julie te kenne te gee.
Hy het daarop gewys dat inligting ten opsigte van die betrokkenheid van die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) nie korrek is nie en dat mense se weergawe van die dag oordrewe was.
In sy skrywe maak mnr. Geswind kapsie teen aanhalings van mense in die berig dat daar gedreig is om voertuie om te keer en aan die brand te steek en dat mense se lewens bedreig is. Op videogrepe wat versprei is en op die webtuistes van die Oudtshoorn Courant en die Suid-Kaap Forum verskyn het, is dit duidelik dat daar vir etlike minute chaos geheers het en dat mense inderdaad bedreig was.
Volgens 'n berig in die Suid-Kaap Forum (26 Julie) het toeskouers bevestig dat bottels en glase gegooi is. Aangesien die gebeure van die dag voorgelê is vir 'n ondersoek, was nie een van die bestuurslede van Heidelberg, Bridgton of SWD-rugby wat die dag by die wedstryd was, bereid om amptelik kommentaar te lewer voor die berig van 27 Julie nie.
Die ondersoek en tugverhoor ten opsigte van die voorval sowel as 'n appèl is reeds afgehandel. Met die aanvanklike tugverhoor is Heidelberg skuldig bevind op die oortreding van Klousule 8.6 deurdat 'n speler 'n skeidsregter aangerand het en Klousule 4.2.4 deurdat toeskouers toegelaat is om alkohol in hulle voertuie na die terrein te bring. Heidelberg is vir die res van die seisoen, asook vir die 2019 en 2020 seisoen geskors.
Die skorsing is gedeeltelik opgeskort op sekere voorwaardes.
Heidelberg het egter appèl aangeteken teen die bevinding. Die appèl is op 30 Augustus afgehandel en die sanksies is as volg gewysig: Heidelberg RVK is met onmiddellike effek vir die res van die 2018-rugbyseisoen geskors en met R15 000 beboet. Die klub word ook vir die volgende twee rugbyseisoene geskors, maar die skorsing word vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat die klub nie weer skuldig bevind word op 'n oortreding van Klousule 8.6 nie.
Met die voorbereiding vir hierdie berig is Gavin Geswind (sekretaris van Heidelberg RVK), Adv. Benito Metembo (voorsitter van Bridgton RVK) en Hennie Baartman (president van die SWD rugbyunie) verlede Dinsdag genader vir kommentaar.
Teen spertyd gisteroggend is geen kommentaar van Heidelberg RVK se bestuur ontvang nie.
Metembo het in sy reaksie gesê: "Ek het getuig in die verhoor en my hart is skoon, wat gebeur het is verby.
"Ek dra geen kwade gevoelens teenoor die klub nie." Hy het ook namens Bridgton RVK gesê dat hulle die uitslag van die verhoor aanvaar.
In sy reaksie het Baartman gesê: "Wat my as president van SWD betref, was dit totaal onaanvaarbaar wat daardie dag in Heidelberg gebeur het. Dit was 'n swart dag vir klubrugby in SWD, wat die unie se beeld baie skade berokken het. Mense se lewens was in gevaar dat selfs die polisie ingeroep moes word om die orde en chaos te herstel."Hy het ook bevestig dat die tugproses sy verloop geneem het en na die appèl-uitspraak afgehandel is.
In die berig word genoem dat die polisie se eenheid vir openbare orde (algemeen bekend as Pops) vanaf George ontbied is om orde te herstel.
Die Oudtshoorn Courant het intussen met die polisie op Heidelberg bevestig dat slegs polisielede van Heidelberg uitgestuur was. Hiermee stel ons die berig van 27 Julie ten opsigte van polisie-optrede by die voorval op 21 Julie reg, deur te bevestig dat slegs polisielede van Heidelberg die betrokke dag uitgeroep was en nie lede van Pops nie.
Lees 'n vorige artikel hier: Polisie ingeroep na rugbyboewery
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'