Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - SWD-rugbyunie se president, Hennie Baartman, en twee skeidsregters moes die afgelope Saterdag deur die polisie se openbare-orde-polisiëringseenheid (Pops) na veiligheid geneem word nadat hul lewens op die Duivenhoks-stadion in Heidelberg deur toeskouers en rugbybeamptes bedreig is.
Baartman moes in 'n kleedkamer skuil nadat leë bierbottels en klippe na hom gegooi is. Sy motor moes deur 'n Bridgton-speler na veiligheid geneem word nadat toeskouers dit wou uitbrand.
Die skeidsregter, Pieter le Roux, het na bewering ook deurgeloop nadat van Heidelberg se spelers hom geklap en gewurg het. Die toeskouers wou ook Le Roux se bakkie op sy dak omgekeer het.
Die voorval volg nadat Bridgton-rugbyklub vir Heidelberg op laasgenoemde se tuisveld met 26-25 gewen het. Baartman was 'n toeskouer by die wedstryd. Die toeskouers was woedend omdat Heidelberg verloor het en het hul frustrasies op Baartman uitgehaal. Die polisie moes van George af ontbied word om seker te maak dat Baartman ongeskonde die stadion verlaat.
Volgens die Oudtshoorn Courant se susterskoerant, Suid-Kaap Forum is Baartman daarvan beskuldig dat hy as president van die unie, nie aan Heidelberg se pleidooi vir 'n ander skeidsregter, voldoen het nie.
Die ontevredenheid het onder Heidelberg se ondersteuners ontstaan omdat die skeidsregter, wat die eerste span se wedstryd hanteer het, glo swak beslissings tydens die wedstryd gemaak het.
Kyk 'n video hieronder:
Baartman wou op navraag nie kommentaar lewer oor die gebeure nie. Hy het egter aan die Oudtshoorn Courant bevestig dat daar wel 'n voorval was. "Ek kan ongelukkig geen uitsprake maak oor wat gebeur het nie. Die saak is tans sub judice en daar is tugprosedures en prosesse wat nou gevolg word deur die unie. Die saak is nou in die hande van die tugkomitee."
Toeskouers druk die heining rondom die veld plat. Foto: Suid-Kaap Forum INLAS: 'n Skermgreep uit die video waar Benito Metembo deur Bridgton-spelers uit die tonnel gehelp word.
Benito Metembo, Bridgton se voorsitter, is ook deur 'n groep mense aangerand. Hy is deur Bridgton-spelers uit die tonnel onder die pawiljoen gehaal. Sy klere is in die proses geskeur.
Een van Bridgton se bestuurslede sê hy het nog nooit so iets soos in Heidelberg beleef nie.
"Dit het gelyk asof dit 'n rillerfliek was wat voor my afgespeel het. Kinders en vroue moes vir hulle lewens hardloop terwyl leë bierbottels en klippe na hulle geslinger is. Ons klubvoorsitter is in 'n hoek vasgekeer en deur meer as 20 mense aangerand. Die klere wat hy aangehad het, het soos vodde aan hom gehang nadat hy na veiligheid deur die spelers gesleep is. Dit was iets verskriklik om te beleef."
Die lid sê hy sal nooit weer die rugbyspelers en ondersteuners aan sulke rugbyboewery wil blootstel nie.
Benito Metembo, voorsitter van die Bridgton-rugbyklub, wys sy klere wat tydens die geveg geskeur is. Foto: Hein Coetzee
"Ek hoop die spelers word nooit weer aan sulke barbarisme blootgestel soos die afgelope Saterdag nie. Wat my dwars in die krop steek is dat mense aangehits was om met ons te baklei. Wat op Heidelberg gebeur het is 'n vieslike vuil klad op rugby se naam. Sulke boewery moet met wortel en tak uitgeroei word. Rugby is veronderstel om brûe en vriendskappe te bou."
Julian Buis, Heidelberg se voorsitter, het aan die Suid-Kaap Forum gesê, hulle gaan nie met die media in gesprek tree nie en wag hulle tot daar volgens die grondwet se prosedure opgetree word. Hulle het hul verslag aan die unie voorsien.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'