OUDTSHOORN NUUS - As gasheerunie het SWD-rugby tydens die 2025 Hollywood Foundation Iqhawe-week, wat op Langenhoven Gimnasium se sportterrein plaasgevind het, die unieke voorreg gehad om twee spanne in te skryf, SWD en SWD XV.
SWD XV
Die week, wat daarop gemik is om jong talent van regoor Suid-Afrika 'n platform te bied, het Oudtshoorn laat gons van opwinding, terwyl plaaslike ondersteuners die volgende generasie rugbyhelde in aksie kon sien.
Albei SWD-spanne het met groot geesdrif, vasberadenheid en trots gespeel en bewys dat die Suid-Kaap se ontwikkelingsrugby floreer.
Die SWD XV-span het hul toernooi op 6 Oktober afgeskop teen die OP in wat 'n strawwe openingswedstryd was. Hoewel SWD XV met 19 - 0 vasgeval het, het hulle met moed en karakter gespeel en OP hard laat werk vir elke punt. Hul verdediging was taai en hul voorspelers het meedoënloos gewerk om momentum te behou.
In hul tweede wedstryd op 7 Oktober het die span egter met oortuiging teruggekeer en die Limpopo Blou Bulle met 33 - 0 afgeransel, 'n vertoning wat hul potensiaal ten volle weerspieël het. Die slot, Joshua Biel, is as speler van die wedstryd aangewys ná 'n kragtoer in die vaste fases en oop spel.
SWD
Die SWD-span, wat ook op 7 Oktober in aksie was, het die plaaslike trots verder aangevuur toe hulle in hul eerste wedstryd 'n dapper Golden Lions-span met 14 - 10 geklop het. In 'n wedstryd vol spanning en opwinding moes SWD tot die einde toe verdedig om hul oorwinning te verseker.
Hul kalmte onder druk en samehorigheid het die verskil gemaak in 'n kragmeting wat enige rigting toe kon kantel.
Later die dag het SWD weer die veld betree, dié keer teen Grens, in wat as een van die mees intense wedstryde van die toernooi beskryf word.
Die jong Suid-Kapenaars het vasgebyt in elke fase, maar is uiteindelik met 17 - 15 naelskraaps geklop. Grens se no. 8-speler, Unakho Socishe, is as speler van die wedstryd aangewys, maar dit was SWD se veerkragtigheid en onwrikbare gees wat die toeskouers beïndruk het.
Met twee spanne wat op tuisgrond hul staal gewys het, het SWD se deelname aan vanjaar se Iqhawe-week nie net talent in oorvloed getoon nie, maar ook die krag van spanwerk, karakter en die toewyding van die streek tot jeugontwikkeling onderstreep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’