OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het El-Thearin Meintjies te beurt geval na hy 'n rugbybeurs ontvang het. Hy gaan volgende jaar vanaf Januarie tot 30 Junie by die SAS Rugby Internasionale Instituut in Stellenbosch aansluit.
Meintjies is 'n speler van Bridgton-rugbyklub sowel as 'n SWD o. 21-speler.
Hennie Baartman, president van Bridgton-rugbyklub sê, Meintjies is 'n belowende losvoorspeler en dit is vir die klub 'n groot prestasie dat een van hul spelers so 'n beurs ontvang.
"Ons is baie trots op hom, dit wys ons ontwikkelingsprogram in die klub werk en ons spelers kry goeie afrigting om nog verder te kan ontwikkel en beter prestasies te behaal."
Baartman sê Meintjies beskou dit as 'n groot voorreg om die beurs te kon ontvang.
"Hy sien daarna uit om hierdie geleent-heid met albei hande aan te gryp en hy weet sy rugbyloopbaan sal geweldig baat by die afrigting wat hy daar gaan ontvang."
Meintjies gaan in die ses maande hoë kwaliteit, taktiese en tegniese afrigting ontvang, mediese en wetenskaplike intervensie sowel as lewensvaardigheids-mentorskap om sy ontwikkeling as rugbyspeler aan te help.
Wanneer hy klaar is sal hy hom weer by SWD aansluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’