OUDTSHOORN RUGBY NUUS - Die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) het Oudtshoorn aangewys as die geskikte plek om die eindstryd van die SuperSport Rugby Challenge aan te bied.
Die Tafel Lager Griekwas sal Sondag 15 Julie om 14:00 in Bridgton teen die iCollege Pumas op die Plate te staan kom om die wenner van die reeks te bepaal.
Griekwas het Saterdag 7 Julie Vrystaat met 27-14 uitgeskakel, terwyl die Pumas die Sharks Vrydagaand met 30-17 gewen het.
Dit is die derde keer dat die SuperSport Rugby Challenge op Oudtshoorn plaasvind.
Volgens die woordvoerder van die rugbyreeks, Sandile Luthile, is die eindstryd aan Oudtshoorn toegeken omdat die stadion elke keer volgepak is en die toeskouers ordelik is tydens die wedstryde.
In drie voorwedstryde sal Bridgton se A-, B- en C-spanne teen Progress te staan kom. Die hoofwedstryd, asook die Bridgton A teen Progress A-wedstryd word direk op SuperSport gebeeldsend.
Die president van SWD-rugby, Hennie Baartman, het Maandag aan die Oudtshoorn Courant gesê: "Dit is 'n groot eer wat Oudtshoorn te beurt geval het om die eindstryd aan te bied."
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het Dinsdag R100 000 aan SWD-rugby oorhandig om te verseker die infrastruktuur en reëlings is in plek vir die kragmeting.
Tydens die oorhandiging het uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester gesê:
"Oudtshoorn is reeds die sportmekka van die Suid-Kaap en is nou besig om nasionaal op sportgebied naam te maak. Ons verwelkom groot sportgeleenthede op plaaslike bodem, aangesien dit toerisme en Oudtshoorn se ekonomie bevorder."
Henko Marais sal vir die iCollege Pumas in aksie wees op die Plate. Foto: Hennie Homann / www.hhphotoxpress.co.za Benito Mtembo, voorsitter van Bridgton-rugbyklub, het Woensdag gesê: "Ons is meer gereed as ooit vir 'n Premierliga-wedstryd. Die manne is oorgehaal en ons gaan Oudtshoorn trots maak."
Die hekke open om 07:00 en toegang is gratis.
Die voorwedstryde skop om 09:00 af.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'