OUDTSHOORN NUUS - Suid-Afrikaners en mense in rugbygeledere wêreldwyd het met skok en afgryse reageer op die dood van een van die Suid-Kaap en Suid-Arika se groot rugbyhelde, Pedrie Wannenburg (41).
Wannenburg is verlede Vrydag noodlottig in 'n motorongeluk in Houston, Amerika beseer.
Die voormalige Blou Bul en Springboklosvoorspeler, wie se ouers 'n plaas op De Rust besit, was 'n afrigter van die Rice Universiteit-rugbyklub in Houston.
'n Tiener is in verband met die voorval in hegtenis geneem en het gevlug van die polisie waarna 'n hoëspoed-jaagtog plaasgevind het en sy motor met die van Wannenburg gebots het.
Wannenburg se agtjarige seun, Francois, is tans in 'n stabiele toestand in 'n hospitaal in Texas. Sy vrou, Evette en hul 10-jarige dogter, Isabel, wat ook in die voertuig was, is ongedeerd.
Wannenburg het in 20 toetse vir die Springbokke uitgedraf en was 'n staatmaker van die Bulle-span wat die Superrugbyligareeks in 2007, 2009 en 2010, en die Curriebeker van 2002 tot 2004, 2006 (gedeel) en 2009 gewen het.
Hy was ook die eerste speler wat 100 wedstryde in Super Rugby gespeel het en het 'n rekord van 99 agtereenvolgende wedstryde opgestel.
In 2010 het hy na Ierland verhuis en vir Ulster gespeel, gevolg deur die Franse klubs Oyonnax en Castres, voordat hy na Amerika verhuis en vir Denver en Austin gespeel het tot sy aftrede in 2018.
Verwante artikel: Blou Bul-legende Pedrie Wannenburg sterf tragies
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'