OUDTSHOORN NUUS - Spring Roses het vriend en vyand verras deur Bridgton met 18-5 in 'n feeswedstryd op die Bridgton-sportterrein te klop. Die feeswedstryd was deel van Roses se 45ste bestaansjaar vieringe.
Die wedstryd wat in goeie gees gespeel is sal 'n jaarlikse instelling word om die vriendskapsbande tussen die twee klubs te versterk. Die spanne het meegeding om die Spring Roses Vriendskapstrofee.
Roses wat rustyd reeds voorgeloop het, het dit van die begin af duidelik gemaak dat hulle die wedstryd wou wen. Goeie spel deur die senter, Freddy Coetzee, en die skrumskakel, Dominic Smit, het Bridgton heeltyd op die agtervoet gehou.
Ook Claude Fortuin en Conroy Tiemie het agterlangs uitgeblink. Voorlangs het Heinrich Erasmus, Marlin Tiemie en Lincoln Jaftha die oog gevang.
Vir die Bridgton 15-tal het die legendariese voormalige SWD-vleuel, Keith Meyer (44), 'n barshou gespeel. Meyer het met 'n glimlag vir die jong knape gewys hoe 'n agterspeler die lyn moet breek. Meyer het ook Bridgton se drie gedruk.
Ander uitblinkers vir Bridgton was die veteraanslot, Jan Simmers. Ook Anver Venter, Bradwin Wanies, Wayne Julies en Charlie Ewerts het vir die skare gewys hoekom hulle onder die bestes in SWD-rugby tel.
Hein Coetzee, voorsitter van Spring Roses-rugbyklub sê hy was baie tevrede met sy span se vertoning.
"Dit was nou wel nie Bridgton se A-span nie, maar ek vat die oorwinning met trots. My spelers moet krediet kry vir die goeie rugby wat hulle gespeel het. Ons is deur 'n moeilike jaar en ek hoop die spelers se selfvertroue het gegroei na die wedstryd. Hopelik wen ons volgende jaar die Presidentsliga."
"Ons wil vir Bridgton se bestuur en spelers dankie sê dat hulle die hand van vriendskap na ons uitgereik het. Ons het groot respek vir almal van hulle.
"Ek hoop dat die twee spanne oor 20 jaar nog steeds om die Spring Roses Vriendskapstrofee sal meeding. Rugby is in elk geval daar om brûe te bou tussen die rugbygemeenskappe en dit wat Saterdag gebeur het was fenomenaal."
Vir Spring Roses het Dominic Smit en Jaco Festus drieë gedruk. Smit het ook met twee strafskoppe geslaag. Fortuin het geslaag met 'n doelskop.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'