OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Spring Roses se A-span het Adias van Volmoed verlede Vrydagaand op die Bridgton-sportterrein in 'n SWD Presidentsliga wedstryd met 21-15 ore aangesit. Adias, wat vanjaar sy debuut in dié liga maak nadat hy verlede jaar bevorder is deur die Karoostreekliga te gewen, het egter regdeur die wedstryd goeie rekenskap van homself gegee.
Die wedstryd, wat in koelerige weerstoestande gespeel was, het teen 'n hoë tempo afgeskop met albei spanne wat gretig was om die bal lug te gee.
Spring Roses het eerste bloed geruik toe die lywige slot Ruan Tolken in die 5de minuut met brute krag deur Adias se verdediging gebars het vir sy drie. Tolken het verlede jaar vir nog Oudtshoorn rugbyklub (SWD Presidentsligaspan) uitgedraf. Roses se losskakel, Berto Botha het verdoel om die blou-en rooi truie met 7-0 te laat voorloop.
Adias het geleidelik hul voete begin vind en was in die 22ste minuut met 'n strafdoel beloon nadat Spring Roses vir onkantspel gestraf is. Hul vleuel Charlton Prinsloo het die strafdoel oorgeklits en die spelers het gaan rus met die halftydtelling op 7-3.
In die tweede helfte het die span van Volmoed met meer selfvertroue begin speel en Spring Roses onder groot druk gesit. Na sowat tien minute in die tweede helfte het Adias se losskakel (Bradley Arries) soos 'n warm mes deur botter Spring Roses se verdediging gepenetreer om onder die pale te druk.
Prinsloo het die doelskop verdoel en Adias het vir die eerste keer in die wedstryd met 10-7 voorgeloop. Die momentum was in hierdie stadium met die span van Volmoed en sy toeskouers het geesdriftig oorwinnings-liedjies begin sing om hul span verder aan te moedig.
'n Eerste oorwinning in dié liga was hul egter nie beskore nadat Spring Roses met twee vinnige drieë deur Morné Basie (agsteman) en CJ Lourens (haker) hul lot verseël het.
Botha het albei drieë verdoel en Roses was ewe skielik met 21-10 voor. Met vyf minute se speeltyd oor het Adias verwoed aangeval en net voor die eindfluitjie het hul heelagter Fransie Gelderbloem 'n troosdrie gedruk. Prinsloo het misluk met die doelskop wat die eindtelling op 21-15 te staan gebring het.
Adias se afrigter, Lional Prinsloo, het na die wedstryd gesê dat sy span baie positiewes uit die wedstryd kan neem, en dat Adias beslis in hul volgende wedstryd alles in die stryd sal werp om hul eerste oorwinning in dié liga te proe. Adias se volgende wedstryd is Saterdag teen Willowmore op die REC terwyl Spring Roses vir All Blacks ook Saterdag sal pak op die Bridgton-sportterrein.
In 'n SWD MicFin Premiersliga wedstryd in George verlede Saterdag het Bridgton-rugbyklub met 46-7 teen Crusaders van George verloor.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'