OUDTSHOORN NUUS - Kawaliers van die Grootkraal-omgewing het die afgelope Saterdag die eerste wenners van die Colan Sylvester-uitdaagtrofee geword, deur Rietfontein met 22-5 te klop.
Rietfontein het met hul tweede plek die Spring Roses-wisseltrofee gewen. Beide spanne het ook met kontant weggestap.
Die twee spanne het deurgedring tot die eind-rondte nadat hulle al hulle wedstryde in Spring Roses-rugbyklub se uitkloptoernooi gewen het. Ander spanne wat aan die toernooi deelgeneem het was Jonkers United, Mighty's, Welbedaght United, Pumas, Mambas en Schoemzies.
Selwyn Coetzee van Kawaliers wat as beste voorspeler gekroon is, het weggestap met die Japie Coetzee-wisseltrofeë. Hilton Witbooi ook van Kawaliers het die Garnett Wicomb-wisseltrofee ontvang as beste agterspeler. Chad Pass van Rietfontein het met sy goeie spel gesorg dat hy wegstap met die Hein Coetzee-wisseltrofeë vir die beste speler van die dag.
Die dag het inderdaad rugby uit die boonste rakke opgelewer en die landelike spanne het gewys dat hulle nie hoef terug te staan vir die fabriekspanne nie. Jakob Williams, 'n bestuurslid van Spring Roses sê hulle gaan weer volgende jaar die toernooi aanbied.
"Dit was voorwaar 'n vertoonvenster vir rugby. Al die spanne het gewys dat hulle voortreflike rugby kan speel. In my opinie was daar nie Saterdag verloorders nie. Rugby het geseëvier. Al die spanne kan trots wees op die rugby wat hulle uitgestal het.
"Ons wil dankie sê vir elke span wat deelgeneem het. Ons wil ook dankie sê vir ons borge wat die trofeë moontlik gemaak het. 'n Spesiale dankie aan ons voorsitter wat vir ons gewys het dat alles moontlik is al is 'n klub nie finansieel sterk nie."
Netbalspanne het ook deelgeneem. Spring Roses se netbalspan het die Ewa Fortuin-wisseltrofee gewen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'