OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Spring Roses-rugbyklub se A-span het Saterdag in 'n klipharde SWD Presidentsligawedstryd All Blacks op die Bridgton-sportterrein met 31-28 geklop. Met hierdie oorwinning het dié span 'n einde aan All Blacks se sensasionele wenstreep van agt onoorwonne wedstryde gebring.
As gevolg van hierdie indrukwekkende rekord het die manne in swart die wedstryd voor 'n groot skare as die oorweldigende gunstelinge begin.
Spring Roses het egter van meet af vuur met vuur beveg en die eerste helfte met 17-14 afgesluit. In die tweede helfte het All Blacks op kritieke tye punte aangeteken om hulself in die wedstryd te hou, maar kon Spring Roses nogtans die knoop deurhaak vir 'n epiese oorwinning. Met hierdie oorwinning beklee Spring Roses nou die vyfde plek op die algehele SWD Presidentsliga-punteleer. In die Karoo-streekliga beklee die rooi en blou-truie met 37 punte die tweede plek, 'n kortkop agter All Blacks wat tans met 40 punte die voorloper is.
Hierdie twee topklubspannne van Oudtshoorn het albei 'n realistiese kans om vir die uitkloprondtes van dié toernooi te kwalifiseer. Die wenners sal dan na die SWD Mic Fin Premierliga bevorder word. Tans is dit slegs Bridgton-rugbyklub wat Oudtshoorn in dié elite liga verteenwoordig.
Karel Gerhardus, afrigter van Spring Roses, het na die wedstryd sy spelers geloof vir die wyse waarop die span as 'n eenheid geglo het dat hulle die wedstryd teen alle verwagtinge kan wen.
"Om die tweede rondte van die toernooi op 'n wennoot te begin is 'n broodnodige sielkundige hupstoot wat my span nodig gehad het. Die terugkeer van beseerde sleutelspelers soos Aubrey Carelse (stut), Cedric Esau (skrumskakel), Suttner Abrahams (vleuel) en Morné Basie (agsteman) het ook 'n groot verskil gemaak." Gerhardus het egter sy spelers gewaarsku dat een swaeltjie nie somer maak nie en dat daar harde werk voorlê indien sy span hul doelwit wil verwesenlik om aanstaande jaar in die Premerliga te speel. "Dis egter verblydend om te sien dat ons wel oor die talent en sielkundige-gehardheid beskik om saam met die groot honde in die toernooi saam te blaf," het hy gesê.
Vir Spring Roses het Conroy Tiemie (senter), Suttner Abrahams (vleuel), Cedric Esau (skrumskakel) en Morné Basie (agsteman) drieë gedruk. Berto Botha (losskakel) het met vier doelskoppe en 'n strafskop geslaag. Spring Roses se volgende wedstryd is Saterdag teen Uniondale op laasgenoemde se tuisveld.
Volgens Damon Gysman, voorsitter van All Blacks, het sy span nie hul kanse in die wedstryd gebruik nie en daarom die prys betaal.
"Alhoewel hierdie nederlaag seermaak is dit egter 'n bedekte seëning om die spelers voor die uitkloprondtes te herinner dat jy net so goed soos jou laaste wedstryd is. Alle eer aan Spring Roses vir 'n puik wedstryd."
All Blacks se volgende wedstryd is Saterdag teen Willowmore United op die Bridgton-sportterrein. In nog 'n SWD Presidentsligawedstryd het Collegians vir Uniondale met 46-21 oorrompel.
In 'n SWD Mic Fin Premierligawedstryd het Bridgton rugbyklub se A-span met 34-22 teen Barbarians van Mosselbaai verloor.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'