OUDTSHOORN NUUS - Spring Roses het hul onoorwonne status in die Presidentsliga behou na hulle die afgelope naweek Willing Hearts van Prins Albert met 48-12 kafgedraf het.
Roses het teen rustyd met 15-5 voorgeloop.
Hearts het Roses aan die slaap gevang en eerste 'n onverdoelde drie gedruk. Roses het egter onmiddellik terug geslaan met 'n pragdrie deur die regtervleuel, Scott Pretorius, wat verdoel is deur Domenic Smit. Smit het nog 'n strafskop bygedra terwyl Conroy Tiemie 'n onverdoelde drie gedruk het.
Na rustyd was daar egter geen keer aan Roses nie. Hulle agterspelers het kringe om Hearts gehardloop en die drieë ingeryg. Tiemie wat 'n driekuns behaal het, het nog twee keer gaan druk. Hearts kon net 'n verdoelde drie druk.
Voorlangs het Morné Basie oudergewoonte 'n barshou gespeel. Ook Riaan Van Wyngaardt, Elton Oosthuizen, Ursheon Flink, Heinrich Erasmus, Petrus van Vuuren en Aubrey Karelse het meer as hul kant gebring.
Agterlangs het Tiemie, Smit, Pretorius, Claude Fortuin, Jeremy Julies en Sedrick Esau skitterend vir Roses gespeel. Veral Smit het Hearts hoofbrekens besorg met sy breekslae.
Driedrukkers vir Roses was Tiemie (3), Pretorius, Fortuin, Julies, en Riaan Lottering. Smit het met sy skopskoen drie doelskoppe en 'n strafskop deur die pale gejaag. Fortuin het ook twee doelskoppe by die telling gevoeg.
Edwardo Stal op die aanval.
Roses se B-span het ook hul eweknieë van Prins Albert 'n loesing van 36-21 gegee. Vir die B-span het Suttner Abrahams 'n driekuns behaal. André Fortuin, Piet Samson en Pieter Jansen het die ander drieë gedruk. Fortuin het met drie doelskoppe geslaag.
Spring Roses en Harlequins sal mekaar die komende naweek die stryd op die Bridgton-sportterrein aansê.
Conroy Tiemie, wat drie drieë gedruk het, sweef soos 'n arend oor die doellyn. Foto's: Ebenezer Titus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'