Update
OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Chad Pass, die Spring Roses-speler wat voorverlede Saterdag met twee gebreekte bottelnekke 'n All Black-speler probeer aanval het, se lidmaatskap is deur die klub opgeskort.
Hy is effektief vir 10 jaar geskors en mag in geen hoedanigheid in enige van die klub se strukture deelneem of in spanne speel nie.
Volgens Royden Boonzaaier, kassier en woordvoerder van Spring Roses-rugbyklub het Pass verlede Woensdag tydens die klub se interne tugverhoor aangedui dat hy teen dié sanksies gaan appelleer.
"Spring Roses betreur hierdie voorval en hoop dat Pass se skorsing 'n duidelike boodskap aan die publiek stuur dat die klub sy gedrag totaal onaanvaarbaar vind."
Intussen het die SWD-rugbyunie ook sy tugverhoor teen Pass en Spring Roses-rugbyklub verlede Donderdag by Outeniquapark (George) afgehandel.
Tydens dié verhoor het Spring Roses-rugbyklub skuldig gepleit op die klagte teen hulle en is gevolglik 'n boetestraf van R5 000 opgelê waarvan R3 000 opgeskort is. Die oorblywende R2 000 is betaalbaar voor die afskop van die SWD-superliga wedstryde wat op 6 Maart begin.
Dié klub is ook gemaan om 'n veiligheid- en sekuriteitsplan aan die SWD-rugbyunie voor te lê.
Chad Pass is vir sy aandeel vir vyf jaar uit alle rugby deur die SWD-rugbyunie aangebied, geskors waarvan twee jaar opgeskort is.
Vorige artikels:
- Spring Roses-rugbyspeler vra verskoning
- Spring Roses rugbyklub skors Pass na bottelkop aanval
- Rugbyspeler saai amok
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'