OUDTSHOORN NUUS - Spring Roses het sy onoorwonne status behou deur Harlequins Magte in 'n klipharde derby met 20-10 te klop. Roses het rustyd met 12-10 voorgeloop.
Roses het eerste bloed geruik toe die haker, Lincoln Jafta, oorgeval het vir 'n onverdoelde drie. Dominic Smit, senter het Roses verder laat voorloop toe hy Harlequins se verdediging oopgekloof het om onder die pale te druk. Claude Fortuin het die drie verdoel.
Harlequins het geantwoord met 'n verdoelde drie en 'n strafskop om die rustydtelling op 12:10 te staan te bring. Roses het die tweede helfte talle kanse laat verlore gaan om drieë te druk. Belowende bewegings het skipbreuk gely as gevolg van swak hanteerwerk en oorywerigheid.
Harlequins het skitterend verdedig om Roses van hulle doellyn af te hou en Roses kon net 'n strafdoel aanteken. Die wedstryd is eers in die laaste minuut verseël toe die stut Aubrey Karelse gaan druk het. Karels het soos 'n wafferse vleuel langs die kantlyn afgenael en met drie verdedigers op sy rug oorgeval vir 'n vyfpunter.
Vir Roses het Elton Ooshuizen, Ursheon Flink, Heinrich Erasmus, Miquel Olckers en Morné Basie voorlangs uitgeblink.
Agterlangs het Jeremy Jullies, Scott Pretorius, Smit en Fortuin die oog gevang.
Vir Roses het Jafta, Smit en Karelse drieë gedruk. Fortuin het met 'n doel en strafskop geslaag.
Roses se B-span het ook sy onoorwonne status behou deur hul eweknieë met 28-15 te klop. Vir Roses het Pieter Jansen, Johnny Van Niekerk, Danwill Stanley en Ben Fortuin gedruk. Randall Meyer het al vier drieë verdoel.
Dominic Smit, Roses se senter, soek 'n gaping.
Morné Basie, agtsteman van Roses beur voorentoe met die bal. Foto's: Ebenezer Titus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'