OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Spring Roses-rugbyklub se A-span moes Saterdag by die Bridgton-sportterrein hard swoeg om 'n begeesterde Harlequins in 'n SWD presidentsligawedstryd met 19-17 te klop.
Harlequins het uit die staanspoor die bal lug gegee en die blou-en-rooi truie se verdediging by tye tot die uiterste beproef.
Binne die eerste tien minute van spel het hierdie aanslag van Harlequins vrugte afgewerp toe hul haker oor die doellyn geval het vir 'n verdoelde drie.
Spring Roses het daarenteen aanvanklik gesukkel om enige ritme in hul spel op te bou as gevolg van oorgretigheid van hul voorspelers en onnodige aanslae op kritieke tye. Dié span se samespel het egter soos die wedstryd verloop het met rasse skrede verbeter en kon hulle daarin slaag om drie drieë in die eerste helfde te druk teenoor Harlequins se twee drieë.
Die kanonpoot van Roses se heelagter, Roberto Botha, het boonop met twee moeilike doelskoppe geslaag om Roses teen rustyd met 19-14 te laat voorloop.
Harlequins het die enigste punte van die tweede helfde aangeteken (strafskop) wat die eindtelling op 19-17 te staan gebring het. Spring Roses het die seisoen vanjaar puik afgeskop en het tans vyf van hul ses wedstryde tot dusver gewen.
Spring Roses se slot, Heinrich Erasmus, probeer deur 'n gaping glip.
Foto's: Wyndham Ewerts
Tesame met All Blacks-rugbyklub wat tot dusver onoorwonne in ses wedstryde is, is hierdie twee plaaslike spanne tans die pasaangeeers in dié liga.
Puntemakers van Spring Roses: Die stut Denzil Belelie het twee driee gedruk. Heinrich Erasmus(slot) het een keer agter die pale gekuier.
Roberto Botha (heelagter) was in die kol met twee doelskoppe.
Spring Roses se B-span is ook onoorwonne tot dusver vanjaar en het Saterdag ook Harlequins se B-span met 24-20 geklop.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'