OUDTSHOORN NUUS - Bridgton het sy kanse verstewig om die Premierliga se uitspeelrondes te haal met 'n skitterende oorwinning van 47-21 oor Groot-Brakrivier. Die rustyd telling was 21-7 in Bridgton se guns. Bridgton is nou in die vierde posisie en het nog twee wedstryde oor om te speel.
Bridgton wat aanvanklik vroeg in die seisoen gesukkel het, het Vrydagaand gewys dat hulle uit hul winterslaap wakker geskrik het. Die span het die toeskouers vermaak met rugby uit die boonste rakke en het as eenheid goed saamgespeel.
Voorlangs was die flank, Wayne Julies, die spil waarom alles gedraai het. Ook LG Waarts, Boutros May, Raymondo Botha en Reagan Behrends het meer as hul kant gebring. Dit was egter Bridgton se agterspelers wat Brak se verdediging tot die uiterste beproef het. Charlie Ewerts, Anver Venter, Bradwin Wanies, Dean January en Rhupino Plaatjies het sirkels rondom Brak se agterspelers gedraf.
Die fondasie vir die briljante agterspel is egter deur die skakelpaar Graham September en Keanin Esau gelê. Die twee het met slim spel seker gemaak dat die buitenste agterspelers genoeg ruimte het om in te baljaar.
Plaatjies, wat op sy stukke was, het twee skitterende drieë gedruk. Charlie Ewerts, het ook twee keer agter die doellyn gaan kuier.
Ander driedrukkers vir Bridgton was Venter, Esau en Raymondo Botha. Esau het ook met ses doelskoppe geslaag. Bridgton reis môre na Mosselbaai waar hulle teen Barbarians, wat tweede op die punteleer is, sal kragte meet.
Jan Simmers beur voorentoe met die bal. Foto's: Hein Coetzee
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'