Dit ongeag moontlike stappe wat deur die SWD-rugbyunie teen sulke klubs geneem kan word. Dit was die boodskap van James Speelman, voorsitter van die SWD-skeidsregtersvereniging.
`n Skeidsregter, Garnett Roelfse, is glo verlede Saterdag aangerand tydens `n wedstryd tussen Bridgton en All Blacks op die Bridgton-sportterrein.
Garnett Wicomb berig dat Roelfse die wedstryd halfpad deur die tweede helfte afgeblaas het. Dit was nadat hy All Blacks se kaptein, Brian Jonkers, aangespreek het oor onwettige skrumwerk en dat hy 'n tweede strafdrie teen sy span sal moet toeken indien dit weer gebeur.
Toe Roelfse die wedstryd beëindig was die gort gaar.
Van All Blacks se spelers, met die skrumskakel, Marius Coetzee, aan die voorpunt, het op hom afgestorm en hy moes rieme neerlê na die kleedkamers.
Spelers van Bridgton het hom probeer beskerm.
Daar was verdere chaos toe toeskouers wat op die ooppawiljoen gesit het, die tydelike omheining agter die noordelike doelpale platgetrap en ook op die veld gestorm het.
Roelfse was ook twee weke gelede in `n voorval tussen Evergreens en Groot-Brak betrokke, waarna skeidsregters alle deelname aan klubrugby vir `n week gestaak het.
Speelman het aan Oudtshoorn Courant gesê dat Roelfse nie vir die volgende paar weke wedstryde sal hanteer nie.
"Ons aanstellingskomitee het gevoel dat hy by twee traumatiese voorvalle betrokke was en `n tyd weg van die veld sal hom goed doen."
In sy verslag het Roelfse glo melding gemaak van die vriendelike wyse waarop hy by die veld ontvang is, die aanwesigheid van sekerheidspersoneel en die hoë omheining om die veld.
Roelfse het, na afloop van die wedstryd, kriminele klagtes by die polisie gelê.
Damon Gysman, voorsitter van All Blacks-rugbyklub, het gesê dat hy en die klub se bestuur "baie teleurgesteld" is in die spelers se optrede.
"Ek wil die groter rugbypubliek van Oudtshoorn om verskoning vra, asook vir mnr. Roelfse, die SWD-rugbyunie, die skeidsregtersvereniging en Bridgton-rugbyklub. Wat Saterdag gebeur het, is onaanvaarbaar vir rugby en ons sal die skuldiges nie ongestraf laat bly nie."
Volgens Gysman het die skeidsregter, na ongeveer 20 minute in die tweede helfte, `n skrum aan Bridgton toegeken, vyf meter van All Blacks se doellyn.
"Daar was `n argument tussen die skeidsregter en ons kaptein. Die skeidsregter het aan sy sak gevat, seker om `n kaart te gee. Ons spelers het geprotesteer. Toe blaas hy die wedstryd af en begin hardloop. Hy is omring deur spelers van Bridgton wat probeer het om hom te beskerm."
Die tugverhoor sou Woensdagaand by die uniekantore in George plaasvind.
Daar was ook 'n harde stryd tussen die tweede spanne. Foto: Ebenezer Titus

Die omheining is deur toeskouers platgestoot. Foto: Garnett Wicomb
Skeidsregter Garnett Roelfse slaan op die vlug.
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
Klik hier vir 'n verwante artikel.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'