TUINROETE NUUS - Dis seweswêreldbekerjaar en menige rugbyliefhebbers van oor die land heen lek reeds hul lippe af vir die vooruitsigte om dié wedstryde vanaf 9 tot 11 September regstreeks op eie bodem in die DHL-stadion in Kaapstad te aanskou.
Vanjaar is die agste keer wat dié toernooi aangebied word en dis ook die heel eerste keer wat dit in Suid-Afrika aangebied sal word.
Alhoewel die Blitsbokke, soos die nasionale sewesrugbyspan bekendstaan, al vier wêreldrugbysewestoernooie gewen het en ook spog met 'n bronsmedalje tydens die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, kon hulle nog nooit daarin slaag om 'n wêreldbeker te wen nie. Tesame met Suid-Afrika se mansspan, sal ons vrouesewesspan ook in aksie wees.
Oudtshoorn Courant het by Cecil Afrika, een van die Blitsbokke se mees suksesvolle spelers, gaan luister wat Suid-Afrika se kanse vanjaar is om die wendroogte uiteindelik te breek.
Cecil, wat dink jy het ons span in vorige wêreldbekers ontbreek wat verhoed het dat ons die gesogte beker kon inpalm?
Ek dink ons staan soos enige ander span 'n goeie kans om die beker te wen. Als gaan natuurlik afhang van ons chemistry as span, en as die beseringsspook kan wegbly, behoort ons die knoop deur te haak. Dis 'n uitkloptoernooi en dus sal ons van die eerste wedstryd af aangeskakel moet wees om nie kanse om punte aan te teken, onnodig te verspeel nie.
Die balans van die span gaan ook belangrik wees en dis hier waar die keurders sal moet raakvat. 'n Goeie mengsel van ervaring en jeug kan goud werd wees en dan het ons natuurlik ook tuisvoordeel; so ja, ons vooruitsigte lyk uitstekend.
Wie is die nuwe spelbrekers in die span waarna toeskouers kan uitsien?
Daar is heelwat opwindende spelers in die groep, maar as ek twee spelers kan uitsonder, wat 'n groot impak behoort te hê, is dit beslis Impi Visser, omdat hy die span se donkiewerk doen. Sy fisiese teenwoordigheid maak
'n groot verskil veral in die kontaksituasies en by die afbreekpunte, maak hy gereeld 'n oorlas van homself. Dan is daar ook 'n speler soos Dewalt Human wat se game awareness vir my goed is. Spelers wat op hulle voete kan dink en wedstrydsituasies in 'n oogwink kan opsom kan uiteindelik die verskil tussen wen en verloor beteken.
Wie is die gevaarspanne in die toernooi en hoe kan Suid-Afrika voorberei vir hulle?
Dis 'n moeilike een, want in 'n toernooi soos hierdie, kan jy niemand onderskat nie. 'n Span soos die tweemalige sewes-wêreldbekerkampioen Fidji, hou byvoorbeeld daarvan om die bal lug te gee.
Samoa se speelstyl is meer direk, en dan kry jy ook vir Argentinië wat by tye onvoorspelbaar kan wees met hul gebruiklike steekskoppies agter die verdedigingslinie.
Op die einde van die dag is dit 'n geval van horses for courses omdat elke span verskillende speel- en verdedigingspatrone het. Spanne soos die Kiwis, Engeland en Wallis sal altyd gevaarspanne wees, maar buiteperde soos Kenia en Amerika, kan ook op sy dag verras.
Volgens alle aanduidings sal dit ook die afrigter, Neil Powell, se laaste toernooi na tien jaar in beheer van die Blitsbokke wees. Sal dit vir die spelers as ekstra motivering dien om hom op 'n triomfantlike wyse vaarwel te groet?
Ja-nee, kyk, as 'n voormalige Blitsbok-speler en -afrigter het Neil diep spore in sewesrugby getrap. Vir die span om die beker in Suid-Afrika te wen, sal beslis die kersie op die koek wees. Sy kalmte en tegniese rugbykennis sal weereens vir oulaas 'n groot bate vir die span wees.
Wat sal 'n oorwinning vir ons land voor ons eie mense beteken? Dink jy dit sal dieselfde effek hê as in 1995 toe die Springbokke die rugbywêreldbeker op Ellispark in Johannesburg gewen het?
Sport het die neiging om mense van verskillende agtergronde bymekaar te bring 'n groot voorbeeld daarvan is die Bokke se oorwinning destyds.
Alhoewel ons in verskillende tye lewe, dink ek die euforie van moontlike Blitsbokke-glorie sal beslis dieselfde effek hê. Wat sewesontwikkeling betref kan ons verwag dat selfs meer jong spelers as wat tans die geval is, die spel met groot entoesiasme en ernstigheid sal opneem.
Enige raad vir opkomende sewes-rugbyspelers?
Alles begin by opofferings. As jy rugby, hetsy dit sewes of die vyftienmankode is, geniet, en jy glo jy het die talent, moet jy eenvoudig harde keuses maak as jy op 'n hoër vlak wil speel. En onthou; harde werk klop talent as talent nie hard werk nie.
Sedert jou aftrede 'n jaar of wat gelede, waarmee hou Cecil Afrika hom tans besig?
Ek geniet tans drie keer per week heerlike koffie. (grappie) Op die oomblik is ek steeds 'n aktiewe speler wat in klein sewestoernooie in Amerika en Frankryk speel. Verder hou ek my besig met kardio, spoed en uithouvermoë-oefeninge om oor die algemeen fiks te bly.
n Kaartjies vir die seweswêreldrugbytoernooi is vanaf Maandag reeds op die Rugby World Cup Sevens South-Africa 2022-webwerf beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'