OUDTSHOORN NUUS - 'n Boorling van Oudtshoorn, Auburn Bezuidenhout (gr. 10) sal van 4 tot 10 Oktober in Mauritius as deel van die Hoërskool Outeniqua se o.18-sewesspan aan die Mauritius-sewestoernooi deelneem.
Die Mauritius-toernooi het in 2013 ontstaan en Outeniqua het nog elke jaar aan die kampioenskappe deelgeneem.
Bezuidenhout, wat nog 'n o16-rugbyspeler is, is gekies om in die o.18-span deel te neem. Hy was 'n leerder van Laerskool Wesbank.
Hierdie belowende rugbyspeler het sy opgang na die sewestoernooi gemaak, deur in 2013 in die SWD o.12 A-span opgeneem te word. In 2014 het hy vir die o.13 A SWD Cravenweekspan gespeel.
In 2017 sien die SWD-keurders Bezuidenhout se talent groei en neem hom op in die SWD o.16 Grant Khomo-span.
Bezuidenhout vertel hy speel reeds rugby sedert gr. R en hoop om na skool nóg hoër hoogtes te bereik in dié sportkode.
Vir sy skool speel hy buitesenter, maar die SWD-keurders en afrigters gebruik hom as regtervleuel vir die provinsiale span.
Sy pa, Abraham Bezuidenhout, is vol lof vir sy seun se talent. "Ek is baie trots op hom. Hy het die talent en ek weet hy gaan nog ver vorder in rugby."
Soos in enige ander sport is borge bepalend vir opkomende spelers om internasionaal deel te neem.
Voornemende borge kan Abraham Bezuidenhout by 076 804 5558 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'