STILBAAI NUUS - Seagulls het Saterdag 2 September vir Spring Roses van Oudtshoorn in 'n klipharde wedstryd gestoomroller en met 34 - 25 gewen.
Met die telling 8 - 0 in die guns van Spring Roses het Seagulls die eerste keer bloed geruik met 'n strafskop deur Curnal Sollmans.
Die eerste helfte is afgesluit met nog 'n strafskop deur Sollmans en 'n drie deur Hackuum Jansen wat verdoel is deur Sollmans om die telling 13 elk te maak.
In die tweede helfte het dit vir Seagulls maar met rukke en stote gegaan, maar hulle het nooit kop verloor nie.
Met tye het die humeure opgevlam en dit het gelei tot twee geelkaarte, een aan elke span. Die skeidsregter moes ook meer as eenkeer die twee kapteins die leviete voorlees, maar in 'n opvlamming aan Seagulls se kant het Gershom van Rooyen, John Busch en Kelvin Michaels agter die doellyn gaan kuier.
Beide spanne het geen genade betoon nie.
Sollmans se skopvoet was elke keer in die kol en met Spring Roses wat teen die einde telkens teruggedryf moes word van die doellyn het die eindfluitjie geblaas met Seagulls wat 34 - 25 gewen het.
Die speler van die wedstryd was Jerome Kxng J Esau 11.
Die B-Span was gans te sterk vir hulle opponente en het hulle met tye kruis en dwars oor die veld geskrum.
Hier het die heelagter Donavan Verwey twee keer agter die doellyn gaan kuier en die reserwe John Waterboer het ook gedruk, terwyl Delano Jacobs twee drieë verdoel het en geslaag het met een strafskop om die eindtelling 22 - 0 te maak in die guns van Seagulls.
Seagulls speel weg teen Silver Stars op 9 September en dan wag 'n grote op hulle teen Harlequins op die Melkhoutfontein-sportterrein.
Gershom van Rooyen draf deur vir sy drie.
Die gevaarlike duikslag wat gelei het tot 'n geelkaart vir Spring Roses se oorywerige linkervleuel.
Die telbord vertel die volle verhaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’