OUDTSHOORN NUUS - Daar is min sportgebeurtenisse wat die koors so hoog opjaag soos 'n klubrugbyeindstryd in die SWD. En Saterdag gaan dinge geensins verander wanneer die twee gróót eindstryde in die SWD-rugbyunie se Superliga Top 8- kompetisie en dié om die Uitdaagbeker op Outeniquapark beslis word nie.
Aptekers en ander verskaffers van kalmeermiddels sal die naweek bontstaan voordat die twee knypkeel-eindstryde begin. Veral verskaffers, wat ook iets aanbied waarmee beskadigde senuwees gedokter kan word, gaan nie 'n ledige oomblik in hul werksomgewing gegun word nie.
Silver Stars en Harlequins pak mekaar om die wenner van die Uitdaagbeker te bepaal en dié skermutseling begin om 15:00. Dan volg die "oorlog" wanneer die Superliga se twee grootste kanonne, Evergreens en Heidelberg, hul eerste skote om 16:30 gaan afvuur.
Die trane gaan rol. Dis nie altemit nie, wat ook al die uitslag van dié twee eindstryde gaan oplewer. Om ná soveel harde werk, beserings, terugslae en groot verwagtinge vas te val, omskep 'n merkwaardige seisoen vir die twee verloorders binne 'n ommesientjie in 'n treurmare.
Daarom gaan spelers, afrigters en ondersteuners Saterdagaand 'n versie of twee huil terwyl die vreugdevure elders brand.
Net iemand wat effe van sy trollie af is sal hier geld wil wed op 'n wenspan of selfs 'n voorspelling waag. Maar as jy geld se baas is kan jy seker 'n paar rand ingooi en kyk wat gebeur.
Dis vier spanne wat goed teenoor mekaar opweeg en dit voorspel net een ding: hoogdrama. Hier gaan geen genade betoon word nie, want daar is net te veel op die spel. Dis vier olifanttroppe wat Outeniqua se grasoppervlak sleg gaan verniel.
Wat wel deurslaggewend gaan wees is dat 'n span wat wil wen - en al vier wil bitter graag, glo my - sal 100% akkuraat moet wees met elke klein dingetjie wat 'n wedstryd se gang kan bepaal. Dis daai klein jakkalsies, die 1% verkeerde besluit hier en 1% daar wat uiteindelik die verskil tussen wen en verloor kan beteken.
Slim besluite, hegte verdediging, ysere dissipline en koelkoppe, tesame met akkurate uitvoering en 100% konsentrasie vir die volle 80 minute, is die paspoort na bekerglorie. Dis nou 'n mondvol, maar dis wat sukses vereis. Net vir 80 minute.
Saterdagoggend, so van negeuur se kant af, sal produktiwiteit en dienslewering in George en Heidelberg vir 'n groot deel van die inwoners tot stilstand kom.
Dit kan eweneens geld vir groot dele van die Tuinroete en Hessequa.
Maak julle reg vir triomf en trane. Outeniquapark gaan uit sy nate bars, so kom dus vroeg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’