OUDTSHOORN NUUS - Spring Roses het Saterdag hul seisoen met 'n wegholoorwinning van 60 -14 oor Calitzdorp op laasgenoemde se tuisveld afgeskop.
Die rustydtelling was 14-7 in Spring Roses se guns.
Roses het die wedstryd stadig begin en kon eers in die tiende minuut 'n drie aanteken toe die skrumskakel, Dominic Smit, deur die verdediging gebars het.
Smit het sy eie drie verdoel. Calitzdorp het egter onmiddellik teruggeveg met 'n verdoelde drie. Die telling was lank gelykop voor die slot en kaptein, Heinrich Erasmus, laat in die eerste helfte gaan druk het. Smit het die drie ook verdoel.
Na rustyd was dit egter 'n ander storie. Calitzdorp wat Roses in die eerste helfte in toom gehou het kon in die tweede helfte nie al die gate toestop nie. Roses wat op al sy silinders gevuur het, het die een na die ander drie ingeryg. Die linkervleuel Autrigh Tiemie het drie keer agter die pale gaan kuier.
Calitzdorp het laat in die tweede helfte 'n troosdrie gedruk om hul telling op 14 te staan te bring.
Uitblinkers vir Roses was die kaptein, Heinrich Erasmus, wat 'n barshou op slot gespeel het. Ook die stutte, Miqhael Hendricks en Trompie Belelie het goed vertoon. Morné Basie, Riaan Lottering en Edwardo Stal wat die lostrio gevorm het, het ook meer as hul kant gebring. Ook die slot, Ursheon Flink het uitgeblink.
Roses het agterlangs te veel skietgoed vir Calitzdorp gehad. Hier het spelers soos Smit, Tiemie, Claude Fortuin, Jaco Festus en Dillan Van Vuuren gate deur Calitzdorp se verdediging gehardloop. Ook die vleuels, Autrigh Tiemie en Suttner Abrahams was gevaarlik elke keer as hulle aan die bal geraak het.
Roses se tien drieë is deur Tiemie (3), Smit, Festus (2), Erasmus, Abrahams, André Fortuin en Alfred Veldsman gedruk. Smit het vier doelskoppe oorgeklits. Fortuin het ook met 'n doelskop geslaag.
Roses se B-span het 19-12 teen Calitzdorp se naasbestes verloor.
Die span van Spring Roses en hul bestuurslede.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'