OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Spring Roses het die afgelope naweek met 'n pragvertoning die span van Willowmore United met 27-11 geklop. Die rustydtelling was 10-6 in Roses se guns.
Met die vertoning het Roses die eerste plek in die Presidentsliga by Willowmore oorgeneem. "Die span is met drie oorblywende wedstryde in 'n goeie posisie om die uitspeelrondes te haal," het Hein Coetzee, voorsitter van die Spring Roses gesê.
Roses het reg van die begin af Willowmore se verdediging beproef met skitterende hardlooprugby. Morné Basie, agsteman en kaptein wat van vooraf gelei het, het Roses se eerste drie gaan druk. Domenic Smit, heelagter het verdoel. Net desperate verdediging deur Willowmore het Roses verhoed om meer drieë in die eerste helfte te druk. Claude Fortuin het 'n geslaag met 'n strafskop om Roses se telling op 10 te staan te bring, terwyl Willowmore met twee strafskoppe geslaag het.
Na rustyd het Roses die krane oopgedraai en Willowmore stukkend gehardloop. Die span het nog drie skitterende langafstand drieë gedruk.
Vir Roses het Basie, Marlin Tiemie, Ursheon Flink, Heinrich Erasmus en Elton Ooshuizen voorlangs uitgeblink. Agterlangs was Smit elke keer gevaarlik as hy aan die bal gevat het. Ook Fortuin, Esau en Scott Pretorius het by tye uitmuntende rugby gespeel. Vir Roses het Basie, Esau, Tiemie en Pretorius drieë gedruk. Fortuin het met 'n doel en strafskop geslaag terwyl Smit ook een drie verdoel het.
Roses se B span wat ook die eerste plek in hulle afdeling beklee het hulle eweknie van Willowmore met 30-15 gewen. Piet Veldman, Jason Blaauw, William Manual, Suttner Abrahams en Steven Simmers het vir Roses gaan druk. Veldman het met 'n doel en strafskop geslaag.
Suttner Abrahams hardloop met die bal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'