OUDTSHOORN NUUS - Spring Roses B het geskiedenis gemaak en deurgedring tot die Presidentsliga-eindstryd na 'n rillerwedstryd teen Eagle Stars van Sedgefield.
Die 'Rooimiere', soos die span bekendstaan, het 36-27 gewen nadat hulle rustyd 15-17 agter was. Die wedstryd moes met ekstra tyd beslis word nadat die spanne 22 elk gehad het toe die eindfluitjie blaas. Dis die eerste keer dat die span in 'n finaal van die Presidentsliga speel.
Henslow Janse, buitesenter was die Rooi Miere se held nadat hy, met net sekondes in die wedstryd oor, onder die pale gaan druk het. Janse het met brute krag deur Eagles Stars se verdediging gebars en oorgeduik vir 'n drie wat deur André Fortuin verdoel is.
Die Rooi Miere het in die eerste minute van ekstra tyd twee drieë gedruk om die wind heeltemal uit Eagle Stars se seile te haal. Eers het Suttner Abrahams, regtervleuel, sy groot vaart gewys om onder die pale te gaan druk.
Daarna het die linkervleuel, William Manual, hakskene vir die opponente gewys met 'n verdoelde drie. Eagle Stars kon net antwoord met een drie.
Dis was egter nie 'n maklike wedstryd vir die Rooi Miere nie. Eagle Stars het hulle in die skrums verniel en hulle meters ver terug gedruk.
Die gevolg was dat hulle nie baie balbesit uit die vaste fasette kon kry nie. Die Rooi Miere was egter in al die ander fasette blaas. Die ligte mannetjies het met opwindende hardlooprugby die swaar Eagle Stars se verdediging tot die uiterste toe beproef.
Voorlangs het Pieter Jansen, Steven Simmers, Booi Swiegelaar en Moncheslin Natan mooi dinge vir Spring Roses gedoen. Agterlangs was Janse, Abrahams, Attie Goliath en Freddie Coetzee goud werd vir hulle span. Veral Janse was gevaarlik elke keer as hy aan die bal geraak het.
Driedrukkers vir Roses was, Janse, Abrahams, Manual, Piet Veldman, Brandon Goliath en Pieter Jansen. Fortuin het drie drieë verdoel.
Spring Roses speel Saterdag om 10:00 die finaal teen Riversdal Blues op Outeniquapark.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'