OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die Oudtshoorn-rugbyklub A-span se treurmare vanjaar het Saterdag voortgeduur toe hy in 'n SWD Presidentsliga-wedstryd teen Spring Roses met 27-5 pak gekry het. Hierdie nederlaag was die volstruise se 13de nederlaag in 16 wedstryde.
Hulle kon in slegs drie wedstryde vanjaar seëvier. Die span loop nou gevaar om na die Karoostreekliga gerelegeer te word.
Tot dusver is dit egter nie 'n uitgemaakte saak nie en sal die SWD-rugbyunie 'n finale beslissing in die komende weke maak. Oudtshoorn-rugbyklub is tans met 18 punte laaste op die algehele SWD Presidentsliga punteleer met Harlequins net bokant hulle met 23 punte.
In 'n onderhoud met die Oudtshoorn Courant het Keith Meyer (speler en afrigter), dié span se probleme vanjaar perfek opgesom.
“Ons het heel jaar in elke wedstryd kompeterende rugby gespeel net om in die doodsnikke van wedstryde vas te val. Swak bywoning van spelers tydens oefeninge het ons veldtog nie veel gehelp nie. Op die einde van die dag was die spelers se algehele fiksheidsvlakke die verskil tussen wen en verloor in naelbytwedstryde.
Swak stelskopwerk is ook tans 'n groot kopseer. Daar is egter lig aan die einde van die donker tonnel met heelwat belowende spelers wat deurkom,” het hy gesê.
Tydens Saterdag se wedstryd het die geskiedenis homself herhaal en het ODN met slegs 10-0 teen rustyd agter geloop en was hulle vir alle praktiese doeleindes steeds in die wedstryd. Roses se agttal het egter namate die spel losgetorring het sake in die vaste skrums en losgemale begin dikteer met Morné Basie (agsteman van Spring Roses) wat aan die voorpunt was. Gate het ewe skielik oral opgeduik wat die Roses se blitsige agterlynspelers soos Marlin Tiemie en Henslow Jansen genadeloos uitgebuit het.
William Viljoen, monstersenter van ODN-rugbyklub bars hier deur die verdediging.
Die volstruise se enigste punte van die wedstryd teen Roses is aangeteken toe hul senter, William Viljoen, deur vier verdedigers met brute krag gebars het om oor te val vir sy drie.
Roses se drieë is gedruk deur CJ Lourens (haker), Marlin Tiemie (vleuel), Henslow Jansen (senter) en Chad Pass (vleuel). Twee doelskoppe en ’n strafskop deur Roberto Botha (heelagter).
Spring Roses speel Saterdag by die Bridgton-sportterrein in die kwarteindronde van die SWD Presidentsliga teen All Blacks. In 'n SWD Premierligawedstryd het Bridgton verlede naweek teen Evergreens van Pacaltsdorp met 52-21 verloor.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'